Paarl Post het met Vrouemaand op besondere vroue van ons vallei gefokus om ons kragstasie van invloedryke sakevroue en vroue met uitsonderlike talent ten toon te stel.
Vandeesweek kom Vrouemaand tot ’n einde en ons gesels met ’n besonderse entrepreneur en sakevrou van die Paarl, Brenda de Jager.
Brenda sou ná vier jaar se studies in maatskaplike werk nooit kon droom dat sy vandag aan die stuur van ’n vooruitstrewende kosbedryf sou staan nie. Vir haar is dit egter eintlik nie so vreemd nie, al was dit destyds glad nie deel van haar toekomsplan nie.
Kos en veral onthou-kosse was nog altyd in haar bloed.
Haar Weskus-wortels in die plaaslewe in die Verlorenvlei-gebied groei steeds diep. Op die werf was ouma altyd besig met plant en pluk, of om te bak en brou – en om wat ook al in seisoen was, in te lê.
Ná Brenda se studies het dinge in Suid-Afrika vinnig begin verander en sy het vir eers wegbeweeg van maatskaplike werk.
Sy het op die Fairview kaas-en-wyn-landgoed buite die Paarl beland, waar sy “ ’n bietjie van als” gedoen het, vertel sy.
Hier is sy met die wynmaker Anthony de Jager getroud, en toe hulle besluit om met ’n gesin te begin, het Brenda ophou werk.
Sy is egter nie iemand wat lank stilsit nie, en kort voor lank het sy op versoek van Fairview se eienaar, Charles Back, enkele ingelegde produkte tuis vir die kaas- en wynproe-lokaal begin maak.
Hierdie produkte was so gewild dat Brenda, wat in daardie stadium alleen die ingelegde produkte in haar plaaskombuis gemaak het, uiteindelik letterlik nie kon byhou nie.
Sy het haar bedrywighede uit die kombuis na haar motorhuis geskuif en haar produk-reeks het ook al meer gewild begin raak. Talle sakeondernemings het op soek na haar ingelegde produkte aan haar deur begin klop.
Toe die Back-familie die Spice Route langs Fairview vestig, het Charles gevra of sy nie sal belangstel om haar onderneming ook daar te vestig nie. Sy het sonder om te huiwer ingestem, en so is Brenda’s amptelik gebore.
Brenda het aanvanklik twee vroue aangestel om haar in die “fabriek” te help, maar die onderneming het só vinnig ontwikkel dat dit vandag 20 werksgeleenthede bied.
Die ingelegde produkte het ook na allerlei souse, mosterdsoorte, balsamiese reduksies, piekels en dies meer uitgebrei.
Omdat Brenda al die geleentheid gehad het om etlike eksotiese lande te besoek, is haar fokus verder gespits op speserye van oral af.
As jy vandag op Spice Route by Brenda se steeds ontwikkelende onderneming instap, word jy oorval deur stemmingsvolle reuke, geure en kleure van oor die wêreld heen wat in die lug hang – saffraan, kaneel, komyn en des meer, asook rakke gestapel met kleurvolle rye konfyt, ingelegde vrugte, pekels, olies en asyne.
Brenda het haar onderneming deur als gebou met haar dogter wat as baba reeds “onder die tafel by markte” grootgeword het. As tiener help haar dogter vandag nog graag haar ma in die winkel en oral waar sy benodig word.
Brenda se produkte word ook deur Checkers en Woolworths gekoop, asook talle ander ondernemings.
Sy sê hoewel dit baie harde werk is om so ’n onderneming te begin en te bou tot waar dit vandag is, is baie ondersteuning wel beskikbaar. Die departement van handel en nywerheid bied finansiering en opleiding aan opkomende sakeondernemings, asook SETA en Wesgro.
Met harde werk, deursettingsvermoë, kreatiwiteit en die regte ondersteuning kan vroue suksesvolle ondernemings uit byna niks op die been bring.