Die Paarl is in rou gedompel ná die verdrinking van die geliefde en legendariese Paarlse kanovaarder Giel van Deventer (72), wat Saterdag (20 Augustus) in die Breërivier naby Swellendam vermis geraak het.
Van Deventer het aan een van die naweekwedrenne deelgeneem as voorbereiding vir die Breërivier-kanomarathon, wat in September plaasvind.
Van Deventer en sy spanmaat, Lood Rabie, se K2-kano het volgens inligting by ’n plek in die rivier tussen Drew Bridge en Swellendam ’n boomstomp getref.
Die rivier loop tans sterk vanweë die afgelope tyd se goeie reën.
Van Deventer en sy kano het onder die water verdwyn, terwyl Rabie daarin geslaag het om na veiligheid te swem.
Hy het vanjaar sy 51ste Bergrivier-marathon voltooi, die meeste nog vir een roeier.
’n Suid-Kaapse polisiewoordvoerder sers. Chris Spies, het bevestig die polisie is Saterdag (20 Augustus) omstreeks 15:00 in kennis gestel dat Van Deventer verdwyn het.
“Die kanovaarders het in die kwalifiserende rondes geroei. Twee van die deelnemers is in stormtoestande vasgevang, wat veroorsaak het dat hul kano omgekeer het.”
Spies sê een van die kanovaarders het daarin geslaag om na die rivieroewer te swem, maar Van Deventer het onder die water verdwyn
Wedvaartbeamptes en polisieduikers het tot skemer gesoek om hom te probeer opspoor, sonder sukses, en het Sondagoggend teruggekeer. Die vlak van die reeds vol Breërivier het oornag gestyg, wat toestande vir die soektog baie moeilik gemaak het.
Die soektog is Maandag voortgesit, en omstreeks 17:00 is die familie in kennis gestel dat sy liggaam naby die gebied waar hy onder die water verdwyn het, gevind is.
Van Deventer was ’n gesoute sportman en het in sy leeftyd ook aan 19 Argus-fietstoere, 24 Orange Descent-kanomarathons, 25 Visrivier-kanomarathons en 38 Breërivier-kanomarathons deelgeneem.
Hy was ook ’n bekende Protea-boer op Dutoitskloofpas, sekretaris van die Bergrivier-besproeiingsraad en ’n passievolle omgewingskundige.
Medelye uit talle oorde het reeds die naweek vir die legendariese Van Deventer ingestroom.
“Hierdie tragedie laat ’n groot leemte in die Wes-Kaap en Suid-Afrikaanse kanovaart,” het Kim Pople, president van Kanovaart Suid-Afrika, gesê.
“Giel was ’n voorloper, beide in die Bergrivier-kanomarathon en as ’n leidende lig in die meesters-roeigemeenskap.
“Sy bydrae weg van die water af as ’n ywerige en deeglike statistikus wat rekord gehou het van elke enkele roeier se uitslae in groot byeenkomste soos die Berg’ en die Vis’ was merkwaardig,” het sy bygevoeg.
Sy jare lange vriend, mede-roeier en landbougenoot, JT Basson, wat destyds ’n strooijonker op Van Deventer se troue was, het aan Paarl Post vertel hulle het presies 50 jaar gelede saam die Breërivier-kanomarathon geroei en gewen.
“Ek dink nie daar was nog so ’n roei-statistikus as Giel in die hele land nie. Sy bydrae aan die sport is onbeskryflik. Hy het ook as mens uitgestaan.
“Hy het vir roei gelewe en uiteindelik het roei hom ook geneem,” het Basson gesê.
Mzamo Wayne Madubedube (August), wat as jong roeier in die ontwikkelingsprogram van die Paarl-kanoklub opgeneem is waarna hy tot gesoute roeier asook afrigter gevorder het, het gesê Van Deventer was soos ’n pa vir die jong roeiers van die Paarl-klub.
“Hy was dikwels daar om ons touwys te maak en aan te moedig, en niemand het die riviere en kano-roetes beter as hy geken nie.
“As ek moet dink aan die Bergrivier-kanomarathon, dan is daar net een naam wat uitstaan, en dit is Oom Giel.
“Hy was ’n baie nederige en vriendelike man wat vir almal tyd gehad het. Ons gaan hom opreg mis.”
Van Deventer se dogter, Karike Conradie, het gesê die begrafnis sal eers later in September plaasvind.
Sy het gesê haar pa se skielike afsterwe laat ’n reusagtige leemte.
“Ons as familie gaan hom baie mis as ’n pa en oupa wat bel en sê wanneer kom ons kuier, hy mis ons (alweer) en bring die kaarte saam!
“Ek en Abe gaan hom baie mis as ’n entrepeneurs- en besigheidsmentor en het veral in laaste maand baie spesiale tye saam beleef.”
Van Deventer word oorleef deur sy vrou, Erna, Karike, en seuns Chris en Gert en hul gesinne.. The communtiy of Paarl is in mourning after the tragic drowning death of legendary canoeist Giel van Deventer.