’n Brandstoftenkwa wat beide petrol en diesel vervoer het vanoggend (Donderdag) vroeg by die Puma-vulstasie langs die R44 omgeslaan.Foto: Verskaf


’n Brandstoftenkwa wat vanoggend (Donderdag) vroeg by die Puma-vulstasie langs die R44 omgeslaan het, het brandweer- en nooddienste laat skarrel om die toneel skoon te maak en te beveilig.

Die R44 tussen Wellington en die R45 sal gesluit wees tot die toneel opgeruim en beveilig is, sê die Drakenstein-raadslid en mede-administrateur van die Wellington Aksie Groep, Stephan Landsberg.

Motoriste wat van die pad gebruik maak word aanbeveel om van alternatiewe roetes, soos Lady Loch-weg en Jan Van Riebeeck-weg deur Paarl, gebruik te maak.

Die ongeluk is om 08:00 aangemeld en volgens inligting van die toneel, sê Landsberg, sal die toneel na verwagting vandag eers tussen 14:00 en 15:00 herstel wees vanweë versigtige opruimingswerk wat tans uitgevoer word.

“Dit is ’n vragmotor wat beide petrol en diesel vervoer wat na bewering by die Puma-vulstasie omgeslaan het toe dit op koers was om brandstof by die vulstasie af te lewer,” verduidelik Landsberg.

Volgens ander inligting wat van die toneel kom, sit die tenkwa steeds vas in die sloot waar dit omgeslaan het.

Die tenkwa wat steeds in ’n sloot langs die R44 vassit, sal na verwagting eers later verwyder word nadat die toneel van gestorte brandstof skoongemaak is. Foto: Verskaf

Opruimingswerk moet eers voltooi word voordat nooddienste kan poog om die tenkwa weer regop te kry.

“Die brandstof wat tans op die toneel is, moet eers oorgetap en enige wat gestort is, skoongemaak word om enige moontlike brand op die toneel te vermy,” voeg Landsberg by.

Die petrol en diesel wat nog in die tenkwa is, sal op die toneel in ’n ander tenkwa oorgepomp word. Die afloop van brandstof na die stormwaterstelsel word doeltreffend beperk.

Die situasie word fyn gemonitor om enige moontlike afloop van brandstof in die Bergrivier te voorkom.

“Tans is daar geen bewyse dat enige diesel in die rivier afgeloop het nie. Ons het absorberende materiaal by alle moontlike toegangspunte tot die rivier gestrooi. Spill Tech sal enige gestorte diesel uit die water pomp,” lui ’n verslag van die toneel.

Alle nooddienste is tans op die toneel om te verseker dat die omgewing teen moontlike ontploffings beveilig word.

You need to be Logged In to leave a comment.