Die vinnige reaksie deur Stellenbosch-munisipaliteit se branddienste het daarvoor gesorg dat ‘n brand wat Donderdag (19 Junie) by die Ebony/Curated- kunsgalery in Bordeauxstraat, Franschhoek uitgebreek het, geen ernstige skade veroorsaak het nie.
Werkers en gemeenskapslede kon meeste van die kunswerke betyds ontruim.
Volgens Stuart Grobbelaar, woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, is branddienste omstreeks 12:54 na die brand ontbied.
“Die vuur het ontstaan in die loft area bo die kaggelgedeelte.
“Die betrokke loft en die inhoud daarvan is deur die brand vernietig.
“Die brand is binne ongeveer een uur suksesvol geblus en die toneel is veilig verklaar.
“Die res van die struktuur het geen sigbare strukturele skade opgedoen nie en word as veilig geag,” het Grobbelaar by navraag gesê.
Hy sê die oorsaak van die brand is tans onbekend en word ondersoek.
Geen beserings is aangemeld nie.