’n Kaart-illustrasie van die Roggeland-gastehuis. Foto: Google Maps/Canva


Historiese plase wat uit die sewentiende eeu langs die Dal Josafat-pad in die Paarl dateer, loop reeds die afgelope paar jaar onder ernstige diefstal en op tye brandstigting deur.

Só ’n voorval het die afgelope Dinsdag (19 Maart) om 04:00 die oggend op die terrein van die Roggeland-gastehuis afgespeel toe ’n veiligheidsbeampte wat van die plase in die omgewing patrolleer, op ’n inbreker by dié plaasgebou afgekom het.

Volgens inwoners wat ’n huis op die Goederus-plaas huur – ’n klipgooi van die Roggeland-gastehuis af – het die veiligheidsbeampte die inbreker gewaar en dadelik daarna vlamme in die gastehuis.

Kort voor lank was die hele huis in vlamme, maar die veiligheidsbeampte se hande was afgekap omdat hy nie lugtyd óf ’n radio gehad het om ondersteuning te ontbied nie.

Die brandweerdienste op die toneel. Foto: Verskaf

Hierdie nalatigheid, volgens die inwoners, is wat hulle die meeste grief, omdat nie eers hul betaalde veiligheidsdiens hulle veilig kan hou nie.

“Dit is meestal die mense van Groenheuwel wat hier kom steel. Hulle het gewoonlik ’n mes by hulle,” sê ’n inwoner.

Deesdae het die inbrake wel effens afgeneem, deels omdat inwoners sulke voorvalle by die polisie aanmeld, maar ’n permanente oplossing word steeds benodig.

“Hulle steel enige ding; hulle maak eers die huis leeg binne, dan begin hulle dit te strip,” vertel die inwoner.

Soms word ook koperdrade gesteel, wat dan ’n kortsluiting veroorsaak en ’n brand tot gevolg het, maar ander kere word die geboue self aan die brand gesteek, sê verskeie inwoners.

Die Roggeland-gastehuis was twee jaar gelede ’n werkende gastehuis, met die eienaars van die gastehuis wat die grond by die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (Sahra) huur, aangesien sommige plase in die gebied in Sahra se besit is.

Sedertdien staan die gebou egter leeg. Weens alles wat hier stuk vir stuk weggedra is, het net die gebou se vier mure oorgebly, met die gebou se ryk geskiedenis verlore.

Volgens die inwoners het Sahra die veiligheidsmaatskappy, Masizame Umnquma Security Services, aangestel om die historiese erwe op te pas.

Inwoners wil egter weet hoe die veiligheidsbeamptes misdaad moet bekamp as hulle nie eenvoudige dienste soos lugtyd of radio’s het om met die “buitewêreld” te kommunikeer wanneer ’n krisis opduik nie.

Volgens hulle kon die brand waarskynlik onder bedwang gebring word as die veiligheidsbeampte aan diens die brandweerdienste kon skakel. Pleks daarvan moes inwoners die brandweerdienste ontbied.

Drie jaar gelede was daar ’n soortgelyke voorval op die Non Pareille-plaas, waar agt huise weens inbrake en brandstigting afgebrand het.

Tot vandag toe staan daardie huise ook leeg, wat verdere geleenthede vir misdaad inhou.

Die Paarl Post het by die plaaslike polisie, Sahra asook Masizame Umnquma Security Services navraag oor die aangeleentheid gedoen, maar teen druktyd geen terugvoering ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.