PAARL – ‘n Brand wat in die motorhuis van ‘n woning in Noorder-Paarl uitgebreek het, is Vrydag (10 Oktober) vinnig onder bedwang gebring voordat dit na die res van die huis kon versprei.
Wynand Els, Drakenstein-munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur van openbare veiligheid, het die noue ontkoming bevestig.
“Drakenstein-munisipaliteit se brand- en reddingsdienste het vanoggend (Vrydag, 10 Oktober 2025) om 10:58 op ‘n brand by ‘n woning in Pieter Wiumstraat, Paarl, gereageer. Die brand is teen 11:40 geblus,” sê Els.
Volgens hom het die huiseienaar van die huis wat geaffekteer is brandwonde opgedoen. Die persoon het behandeling vir hul beserings op die toneel ontvang deur personeellede van die brandweer en die ambulansdienste.
Die plaaslike Facebook inligtingsblad, Paarl Crime, Incidents in SA and Traffic INFO, sê die huiseienaar kon in tyd hul motor vanuit die motorhuis verwyder hoewel dit geringe brandskade opgedoen het.
Els sê verder die munisipaliteit se brand- en reddingsdienste is bygestaan deur lede van die Paarl-polisie.
Dit is op hierdie stadium onduidelik hoe die brand ontstaan het.
Hou die Paarl Post dop vir meer hieroor.


