Brand in middedorp eis man

Die plaaslike brandweer en reddingsdienste het Dinsdagoggend (15?Augustus) gespook om inwoners van ’n brandende woonstelblok in Kasteelstraat in die Paarl te red. Maar een mens kon nie daarin slaag om uit sy woonstel te ontsnap nie en het doodgebrand.

’n Man het gesterf toe hy vasgekeer was in ’n brandende woonstelgebou in Paarl-Sentraal. Foto: Edvin Simons


Die plaaslike brandweer en reddingsdienste het Dinsdagoggend (15 Augustus) gespook om inwoners van ’n brandende woonstelblok in Kasteelstraat in die Paarl te red. Maar een mens kon nie daarin slaag om uit sy woonstel te ontsnap nie en het doodgebrand.

Die brand het net ná 08:00 uitgebreek by een van die woonstelle op die heel boonste verdieping. Een inwoner vertel dat sy op pad was om te gaan stort voor werk toe sy hoor haar bure maak alarm.

“Ek het net my motor se sleutels gegryp en my motor uitgetrek.”Sy sê teen 11:00 het die brandweermanne steeds gesukkel om die brand heeltemal te blus omdat dit nog onderlangs gesmeul het. Dit is ook aangehits deur ’n sterk wind.

Gerald Esau, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, sê die munisipaliteit se ramp- en noodspanne is omstreeks 08:49 van die brand ingelig. Met hul aankoms op die toneel ses minute later, sê Esau, kon die spanne binne ’n goeie tyd daarin slaag om te keer dat die brand verder versprei.

“Drie woonstelle is deur die brand, hitte, rook en water beskadig. ’n Vierde woonstel aangrensend aan die beskadigde woonstelle het slegs rook- en waterskade opgedoen,” voeg hy by.

Met Paarl Post se besoek aan die toneel het inwoners van die woonstelblok en omstanders weens die gebeure verbouereerd rondgestaan. ’n Vrou, wat in die woonstelblok woon en eenkant van die skare gestaan het, was in trane omdat sy nie haar man kon opspoor nie. Dit nadat daar glo gesê is dat al die inwoners uit die brandende woonstelle gered is. Voordat sy omhels en vertroos is deur nog ’n omstander het die vrou, wat duidelik in ’n toestand van angs was, aan Paarl Post gesê sy kry nie haar man nie. “Hy was nog daar binne besig om vir hom tee te maak.”

Die brand was toe al so te sê geblus, met net gedeeltes van die gebou wat nog gesmeul het. Die polisie en reddingspanne is ingelig oor die vermiste man. Die hartseer nuus het kort daarna gebreek dat die man in die brand omgekom het.

Volgens ’n betroubare bron wat op die toneel was, moet ’n in-diepte ondersoek nog deur die polisie afgehandel word, maar daar word vermoed dat die slagoffer oorval is met rook en ineengestort het.

Die 59-jarige slagoffer se lyk is op die boonste verdieping van die woonstelblok gevind, waar hy naby ’n deur gelê het. Hy is onherkenbaar verbrand.

Esau sê die ontstaan van die brand is nog nie bevestig nie, maar daar word vermoed dat dit verband hou met ’n elektriese fout. Hy het verder sy medelye betuig aan die oorledene se familie en almal wat geraak is.

Kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van die Paarl-polisie, sê ’n nadoodse ondersoek sal gedoen word.“Daar is vasgestel dat ’n 59-jarige man in die brand gesterf het. Geen ander beserings is aangemeld nie. Die oorsaak van die brand moet nog vasgestel word.”

You need to be Logged In to leave a comment.