Omstanders kon Saterdagaand net in skok en vrees toekyk hoe die rooi vlamme bo die huis se dak in Pentzstraat blaas terwyl ’n 70-jarige vrou se lewe in die tragedie verloor is.
Die ontstellende gesig van die brandende huis is te sien in ’n video-opname wat op WhatsApp-noodgroepe gedeel is oor die naweek.
Die Drakenstein-munisipaliteit het oor twee brande in Wellington op sy Facebook-blad melding gemaak: “Op Saterdag 22 Julie het ’n brand by Laer-Pentzstraat 36, Wellington, uitgebreek. Drakenstein-munisipaliteit se ramp- en noodspanne het om 19:28 by die toneel opgedaag en die brand binne ’n kort rukkie bedwing.
“Een struktuur is deur die brand vernietig. Ongelukkig is een volwasse vrou dood. Die munisipaliteit betuig ons innige meegevoel met almal wat geraak word.”
Die Wellington-polisie se stasiebevelvoerder, kol. Johan Barkhuizen, het die gevalle bevestig. Hy sê die oorledene is bekend as Johanna Fortuin (70).
Kort daarna om 20:49 is nog ’n brand by Dietmanstraat 8 in New Rest, Wellington, aangemeld, lui Drakenstein se plasing verder.
“Met aankoms het die ramp- en noodspanne ontdek dat twee huise deur die brand geraak is. Die brand is om 21:13 in bedwang gebring en geen beserings is in dié voorval aangemeld nie.”
Die munisipaliteit herinner inwoners om uiters versigtig te wees wanneer hulle hierdie winter elektriese toestelle en lig- en verwarmingstoestelle soos kerse of paraffienverwarmers gebruik.
“Hou vuurhoutjies en aanstekers buite kinders se bereik en gebruik kershouers om ongelukke te voorkom. Kontak jou naaste brandweerstasie in geval van nood.”
Brandweerdienste kan gekontak word by 021 872 2323. Alternatiewelik kan die munisipaliteit se ??tolvrynommer by 080 131 3553 geskakel word.