Dik, malende swart wolke het Maandagoggend in Wellington se lug opgetrek toe ’n hoop bande aan die brand geslaan het.Foto: Neels Kleynhans Photography


Die somermaande bring weer vlamme en tragedie in die vallei nadat ’n ma en haar kind Saterdagaand in ’n brand in die Limietberg-natuurreservaat dood is.

Die brand het glo in ’n alleenstaande opslaanwoning binne die reservaat ontstaan. Die 25-jarige ma en haar drie-jarige kind het daar gesterf.

Kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie, het bevestig die brand het om 22:28 gewoed.

“Die oorsaak van die brand is nog onbekend. ’n Lykskouing sal gehou word om die oorsaak van die ma en kind se dood te bepaal,” lui Du Plessis se verslag.

Volgens ’n betroubare bron was dié woning reeds met brandweerdienste se aankoms op die toneel uitgebrand.

  • Dik swart wolke in Wellington het die aandag van talle inwoners gelok toe ’n hoop bande in Stokery-rylaan aan die brand geslaan het.

Die betroubare bron vertel aan Paarl Post dit was ’n onbeheerde brand wat Maandag om 08:00 uitgebreek het.

“Wellington- sowel as Mbekweni-brandweerdienste was op die toneel om die brand te bestry.

“Aangesien dit bande is wat plastiek, rubber en skadelike chemikalieë bevat, moet sulke vlamme met ’n spesiale skuim bestry word om al die giftige stowwe te neutraliseer,” het die bron verduidelik.

Die oorsaak van hierdie brand is onbekend. Die vlamme was teen 09:30 onder beheer.

You need to be Logged In to leave a comment.