’n Bejaarde paartjie se huis het erge skade gely in ’n brand op ’n plaas op die R45.Foto: DFW Facebook


Minstens drie huise in Paarl en Wellington het in ’n kwessie van 48 uur skade gely, terwyl drie troeteldiere in een voorval dood is.

Diamant-landgoed brand

Die bevelvoerder van die Drakenstein-plaaswag (DFW), Daan van Leeuwen Boomkamp, sê die eerste brand het verlede Donderdag om 08:25 in ’n huis naby die Diamant-landgoed op die R45 in Paarl verwoesting gesaai.

“Die mistige weerstoestande het drama veroorsaak toe die digte mis dit onmoontlik gemaak het om die rook óf brandende vlamme op te spoor. Ondersoek is deur DFW-vrywilligers ingestel, wat gevind het dat ’n huis enkele kilometers weg op die R45 teen die hange van die berg aan die brand was.”

Die drama het op die toneel ontvou toe die vrywilligers gevind het dat die bejaarde huisbewoners se twee honde en ’n kat versmoor het.

“Die huis het taamlik skade opgedoen en die laaste bietjie vlamme in die slaapkamer en die huis se dak is geblus. Die hartseerste van als is dat niemand die voorval by die brandweer of DFW aangemeld het nie.”

Hy sê die troeteldiere was in die huis vasgevang en was reeds dood toe die redders hulle opgespoor het.

Huis in Evanstraat brand

Later die aand om 20:52 het ’n tweede huisbrand in Evanstraat in Paarl-Oos aansienlike skade veroorsaak.

“Die DFW-spanne het die brand uit die bure se erf bestry, terwyl die Drakenstein-brandweer van die straat se kant af die vlamme geblus het. Die tweeledige bestrydingstegniek was suksesvol, maar die huis het aansienlike skade gely.”

Vlamme by Onverwacht-landgoed getem

“Lede van die Onverwacht-huiseienaarsvereniging was die helde toe hulle die brand se vlamme in toom kon hou totdat nooddienste by die toneel opdaag.”

Só verduidelik Van Leeuwen Boomkamp die brandtoneel wat Vrydagmiddag om 14:08 by die Onverwacht-landgoed in Wellington afgespeel het.

“Die voorsitter van die huiseienaarsvereniging het die DFW na die toneel ontbied toe ’n huis aan die brand geslaan het. Terwyl die DFW en Drakenstein-brandweer nog op pad was, het lede van die huiseienaarsvereniging die brand voorlopig met ’n klein DFW-sleepwa bestry.”

Hy sê die Onverwacht-landgoed het private lede van die DFW wat spesiale nood-opleiding by die plaaswag ontvang het.

“Vyf huiseienaars, wat deur die DFW opgelei is om die klein brandwa by die landgoed te gebruik, het hulle puik van hul taak gekwyt.

“Hoewel die brand groot skade aan die huis aangerig het, is dit taamlik goed in bedwang gebring voordat dit na die stoor, wat langs die huis staan, kon versprei.”

Buiten die tragiese dood van die troeteldiere is geen beserings tydens enige van die brande aangemeld nie.

Navrae wat aan die Drakenstein-munisipaliteit gerig is, is nie teen druktyd beantwoord nie.

You need to be Logged In to leave a comment.