Dis Braaidag, en Suid-Afrika se Mnr. Braai, Jan Braai, beantwoord ’n paar vrae oor hierdie passie van hom:

Wat is jou gunstelingsnit om te braai, en waarom? Hierdie dinge verander natuurlik gereeld, maar tans is my gunstelingsnit beesvleis ’n filet, omdat ek toevallig die afgelope weke ’n paar lekker ondervindings daarmee gehad het. Beesstertpotjie is ook altyd baie hoog op my lys. My gunstelinglam is kerriesosaties, want dit is maar net altyd vir my lekker – ek is dol oor kerrie. My gunstelinghoender is tans vlerkies, wat ek eers net so met sout bros braai en dan naby aan die einde met my eie soet en taai sous verf en dan klaar braai. My gunstelingvarkvleis is tans varklies, wat jy lekker stadig vir ’n paar ure in jou buitelugoond gaarmaak.

Waar is jou gunstelingplek om te braai, en hoekom? Suid Afrika is vol pragtige plekke om te braai. Deesdae is dit lekker om by die huis te braai omdat al my braaigereedskap by die huis is, dus kan ek braai nes ek wil.

Wat is jou gunstelingbykos vir ’n braai? Braaibroodjies, aartappelslaai en mieliepap.

Wat is jou belangrikste braai-toestel? ’n Rooster is natuurlik iets waarsonder ’n mens glad nie regkom nie, so feitelik is dit die belangrikste enkele stuk toerusting, want sonder ’n braaidrom kan jy steeds op die grond vuurmaak en braai as jy ’n rooster het. Die gadget waarmee ek altyd braai, is wat as ’n ‘Jan Braai Cube’ bekend staan. Dit is ’n reghoekige kubusvorm wat van staalstawe gemaak is. Jy rus jou braairooster daarop en jy kan hom anders neersit om drie hoogtes te gee om te braai. Dit werk baie beter as ’n driehoek en ek braai nooit sonder een nie.

Ander toerusting waarmee ek altyd braai, is twee tange – een vir die kole en een vir die vleis – sowel as leerhandskoene sodat ek nie my hande brand nie, en ’n termometer vir die vleis om te weet wat in die vleis aangaan sodat jy dit perfek kan braai.

Gas of kole? Ek braai meestal met hout, maar tussen gas en kole maak ek heelwat meer van gas gebruik, want ek het ’n gasstoof in my kombuis, dus maak ek elke dag kos deur gas te gebruik, maar nie noodwendig vir braai nie.

As jy nie hout kan gebruik nie, gebruik jy houtskool of brikette, en hoekom? Ek vind houtskool baie meer natuurlik as brikette, al is dit net omdat dit meer natuurlik gevorm is.

Wat is die grootste sonde wat ’n braaier kan pleeg? Een van die sondes wat die meeste gepleeg word, is dat mense vleis te gaar braai. Die grootste sonde egter is om nie op nasionale Braaidag te braai nie!

Wat gee jy vir ’n braaier wat alles het? ’n Mes-skerpmaker – gewis ’n slypstaaf, maar dan ook ’n slypsteen of, nog luukser, ’n elektriese slypmasjien. Daar is gans te veel stomp messe in braaikombuise in die wêreld.

Vertel kortliks wat jy vanjaar op Braaidag doen? Ek lei deur ’n voorbeeld te stel en ek gaan braai! My dag is gewoonlik ook vol mediaonderhoude, so tussen my telefoon antwoord en met joernaliste praat en fisiek braai, vlieg die dag nogal vinnig verby. Tans lyk dit of ek in Durban gaan wees om die Springbok-wedstryd by te woon en natuurlik daar te braai. 

Een Paarl Post-leser kan ’n eksemplaar van Jan Braai se jongste boek, Die demokratiese republiek van Braai, asook 2 kg tuisgemaakte egte boerewors van Hoog & Droog Deli-slaghuis in die Paarl wen. Stuur die antwoord op die vraag na 066 484 3728 voor 16:00 op Vrydag 23 September: Waarmee verkies Jan Braai om te braai? Hout, houtskool of brikette?

You need to be Logged In to leave a comment.