Braai is byna ’n nasionale sport in Suid-Afrika en so braai ons ook die meeste naweke.
Maar met Braaidag om die draai gaan talle geharde braaiers net met hul beste braai-talente en disse wil spog op die dag. Dít is wel ’n baie moeilike besluit want daar is soveel heerlikhede wat ’n mens oor die kole kan gaarmaak.
Dus, is ’n steak Florentine net die ding om jou geliefdes en vriende mee te beïndruk oor die kole – ’n bielie van ’n t-been skyf tot perfeksie oor die kole gebraai en om die eettafel gedeel.
“Geniet dit!”Steak FlorentineJy benodig:
’n Goed verouderde T-been-skyf van so 6,5 cm dik (omtrent 1,3 kg)
Growwe Kalahari-soutSo maak jy:
Hierdie is ’n eeu oue resep uit Florence, Italië. Vandag kry jy nog enkele restaurante daar wat hierdie reuse-steak op die tradisionele manier gaarmaak – goed verouderde beesvleis wat oor baie warm kole skrikgemaak en bedien word – halfgaar (rare) met net ’n sprinkeling sout. Dit is ’n familiegereg en die vleis word van die been af gekerf en dan saam met die been op een bord vir die hele tafel bedien.
Dis eenvoudig. Verseker dat jy ’n baie warm bedding kole het. Laat jou T-been letterlik op die T-kant van die been op die rooster oor die kole vir 15 minute op sy kop staan. Dan moet hy ’n rukkie lank op sy vet-kant op die kole staan, en verder vir ses minute per kant totdat hy mooi bruin is.
Hierna moet die vleis vir 12 minute op ’n warm plek rus voordat dit gesny word. Staan die vleis weer op sy T-been en kerf dun repe vleis af totdat als van die been af gesny is. Rangskik die vleis om die been, besprinkel dit met sout en bedien.


