André en Margot Paulsen is die trotse eienaars van die BP-vulstasie by Welgeleë Plein.
André sê dat hulle in ’n gemaksone was en ’n nuwe uitdaging wou aanpak.
“Hoe ons dit sou doen, het ons nie geweet nie, het André gesê. Maar toe kom die geleentheid van ’n nuwe BP-perseel op Wellington oor hulle pad.
“Omdat ons so passievol is om nuwe werkgeleenthede te skep, het ons sonder om twee keer te dink, dit aangegryp.”
Wellington was ook nog altyd na aan Margot se hart omdat sy as jong meisie by Hugenote Kollege in spyseniering gewerk het.
Hulle het 15 jaar gelede ’n vulstasie in Gordonsbaai gekoop – sonder enige ondervinding, maar met baie groot drome – en het dag en nag gewerk om ’n sukses daarvan te maak.
“Dit was ’n heerlike uitdaging. Die hoofrede hoekom ons die besigheid bedryf, is om ’n diens aan ons kliënte te verskaf.
Ons doelwit, wat ons reeds bereik het en wat van tyd tot tyd in Gordonsbaai bevestig word, is dat BP Welgeleë ’n plek is waar ons kliënte welkom is, dit moet vir hulle voel soos ’n tuiste weg van die huis af.
“My vraag aan voornemende werknemers is altyd: ‘Hoekom is BP Welgeleë daar?’ ”, sê André.
“Die meeste van die tyd antwoord hulle: ‘Om geld te maak’. Die regte rede hoekom BP Welgeleë (en enige ander besigheid wat my betref) daar is, is om vinnige, vriendelike en flinke diens te verskaf.
“ ’n Besigheid moet geld maak, anders kan hy nie bestaan nie, maar dit sal vanself kom as die diens reg en die produk beskikbaar is.
En wat maak hulle diens besonders?
“Personeel wat altyd daar is om die ekstra myl te loop vir ons kliënte, altyd beskikbaar en sigbaar.
“Nie een persoon se werk het meer status as ’n ander s’n nie. Almal bring hul deel om die wiele glad te laat loop.
“Ek vra eendag ’n vrou watter werk sy doen. Sy sê toe sy werk by ’n nagklub. Ek vra haar toe wat doen sy by die nagklub en haar antwoord was: ‘ I am only the cleaner’ ”.
“ ’n Skoonmaker het een van die belangrikste werke by ’n nagklub. Kan jy jou indink as daar nie skoongemaak word nie, hoe die plek sou lyk. Die klub sou ook nie lank in besigheid gebly het nie. ’n Mens moet trots wees op die werk wat jy doen. Jy moet dit geniet en dit doen na die beste van jou vermoë.”
En wat is hul geheim sedert hul bestaan?
“Om wat ons doen, na die beste van ons vermoë te doen. ’n Skoon en netjiese winkel en oprit, gehalteprodukte wat altyd beskikbaar is (en daai ietsie unieks wat nie altyd oral beskikbaar is nie) en vriendelike en flinke diens. Ons kliënte word ons vriende. Almal werk as ’n span saam. Kommunikasie is van kardinale belang.”


