Alle bouwerk by Stadsig, die nuwe uitsoek- veiligheidswoonbuurt wat op die rand van Wellington langs die pad na Bainskloof ontwikkel word, het die afgelope paar dae tot stilstand gekom.
Die boukontrakteur wat met die oprigting van die eerste wonings in Stadsig gemoeid was, is kort ná die begin van die projek onder besigheidsadministrasie geplaas en die huiseienaars was genoodsaak om te vra dat ’n sake-reddingsplan in werking gestel word sodat met die bouwerk voortgegaan kan word.
Probleme tussen die nuwe boukontrakteur en die ontwikkelaar van die projek het egter tot groot vertragings en ernstige kontantvloeiprobleme vir die nuwe boukontrakteur gelei. Die eienaars van die eerste wonings in Stadsig het besef dat drastiese planne onmiddellik in werking gestel sal moet word indien hulle nie hul geld en hul nuwe wonings wil verloor nie.
By ’n huiseienaarsver-gadering, wat enkele weke gelede gehou is, is besluit dat alle verdere uitbetalings op bestaande verbande in die toekoms nie aan die reddingsplan uitbetaal moet word nie, maar wel aan ’n komitee van huiseienaars wat dan sal sorg dat die huidige boukontrakteur voldoende finansiering ontvang om die huise te voltooi.
Baie mense wat reeds grond in die tweede ontwikkelingsfase gekoop het, het ook pas besluit om van hul grond ontslae te raak eerder as om te wag tot daar met die bouwerk vir die tweede fase begin word.
Volgens hulle is die grond in Stadsig onder valse voorwendsels aan hulle verkoop. Daar is deur die ontwikkelaars aangevoer dat Stadsig deur ’n ordentlike veiligheidsmuur omring sou word, maar dit is volgens eienaars hoegenaamd nie die geval nie. Mense wat reeds in die eerste huise om Stadsig ingetrek het, kla voortdurend dat inbrekers die terrein betree en dat daar gereeld diefstalle uit wonings en motors is.
Die aanvanklike bouwerk op die terrein was ook nie op standaard nie. Die huidige boukontrakteur is gevra om drie van die wonings, wat deur die eerste boukontrakteur opgerig is, af te breek en oor te bou. Verskeie ander wonings moes agterna spesiaal versterk word. Die terrein waarop die eerste wonings opgerig is, was ook nie korrek voorberei nie en die nuwe boukontrakteur moes teen groot koste die vorige bouer se knoeiwerk regmaak.
Onder die ritse klagtes wat deur huidige huiseienaars ingedien is, is dat hul wonings wat deur die eerste boukontrakteur opgerig is, goedgekeur is met dakke wat van die nodige isolasiemateriaal voorsien is. Dit blyk nou geen isolasiemateriaal is gebruik nie en die huise raak onleefbaar warm in die somer.
Op die oomblik staan alle bouwerk by Stadsig stil. Die huidige eienaars is vol moed dat hulle binnekort elkeen volle eienaarskap op hul huise wat in aanbou is, sal hê en dat hulle elkeen individueel met die nuwe boukontrakteur sal kan onderhandel om die werk aan hul huise te voltooi en dat Stadsig tot sy volle potensiaal ontwikkel sal kan word.