Regstappe is deur die Drakenstein-munisipaliteit geneem teen ’n huiseienaar van die Paarl nadat bevind is hy doen bouwerk sonder ’n goedgekeurde bouplan.

Die bouery het ’n punt bereik waar dit onuithoudbaar geraak het vir bure in die nabye woongebied. Inwoners wat in Blakestraat woon, sê hulle word elke dag vir die afgelope drie jaar gesteur deur die bouery en ’n gekap wat elke dag by die betrokke woning in dié straat voortduur.

Volgens een van die inwoners in die gebied het die huidige eienaar die huis sowat drie jaar gelede gekoop, maar tot nou het niemand nog by die huis ingetrek nie.

“Dit is heeldag ’n gekap. Dan bou hulle en dan breek hulle af en dan word daar weer gebou. So gaan dit elke week vandat die eienaar die huis gekoop het. ’n Groot bekommernis is ook dat hier elke dag nuwe werkers is, want die man betaal nie die mense reg nie. Ek en die bure leef in vrees, want hier is aanmekaar nuwe gesigte wat ons nie ken nie, en dit is ’n veiligheidsrisiko.

“Hier het seker in die drie jaar amper meer as 200 mense gewerk; een van die ouens is ook al oorlede. Saans slaap hier iemand op die erf om die plek op te pas, maar julle moet sien hoe word sy wasgoed sommer oor die muur gegooi. Dit is mos nie reg nie.”

Die inwoner, wat verkies om anoniem te bly, sê die huis langs die bouwerk was al telkemale in die mark.

“Daar trek aanmekaar nuwe mense langsaan in, maar die mense hou nie want hulle kan dit nie uithou met die bouery wat nooit end kry nie.

“Wat so gebou en gebreek word, weet ons nie, maar dit gaan elke dag so. Soos ons verstaan, is die huis nou in twee huise omgeskep. Nog ’n probleem is die hoë muur wat opgerig is. Daai muur is ’n obstruksie vir die verkeer, want aankomende verkeer kan nie mekaar sien as gevolg van daai muur nie. Dis asof die nuwe eienaar net doen wat hy wil.

“Die munisipaliteit was ook al hier, want hulle het oor die erf se bougrens gebou, maar dis al. Tot dusver is niks verder gedoen nie.”

Inwoners het by meer as een geleentheid al gevra wanneer die geraas gaan ophou, maar dit duur net voort. Hulle voel gefrustreerd omdat daar nie gehoor gegee word aan hul misnoeë nie, wat na bewering op dowe ore val.

“Ek sal nie verbaas wees as die bouplanne nie in orde is nie, want dit is onmoontlik om vir soveel jaar aan ’n huis te bou. Hulle gee nie om oor die geraas wat hulle maak nie, en hier woon baie mense wat nie gesond is nie.”

Paarl Post het die klagtes onder die aandag van die Drakenstein-munisipaliteit gebring, waarop Seraj Johaar, Drakenstein se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, gereageer het.

“Die eienaar [by die betrokke huis in] Blakestraat, Paarl, het nie ’n goedgekeurde bouplan vir werk wat gedoen is nie.

“By ontvangs van die aanvanklike klagte het die boubeheerafdeling van die Drakenstein-munisipaliteit die saak ondersoek en ’n kennisgewing van voldoening vir die ongemagtigde bouwerk beteken. Die saak is ge-eskaleer vir regstappe en is tans in die munisipale hof vir vervolging.”

In verband met die oorskryding van die boulyn, sê Johaar hulle dra nie kennis daarvan nie, maar ’n bouplan van die betrokke woning is wel by die munisipaliteit ingedien, en dit dui voorgestelde werk binne die eiendomsgrense aan.

“Sou die bouplan goedgekeur word, sal die eienaar beveel word om die oortreding te sloop en aan die goedkeuring te voldoen. Die hofsaak duur voort.”. A Paarl homeowner was slapped with legal action by the Drakenstein Municipality after it was found that he has been carrying out construction work without an approved building plan.

You need to be Logged In to leave a comment.