Inwoners in die omgewing van Mernoleonstraat in die Paarl het ’n beroep op die Drakenstein-munisipaliteit gedoen om in te tree nadat ’n private konstruksiemaatskappy glo ’n oop stuk grond langs die Bergrivier gebruik om sy bourommel “onwettig” te stort en te berg.
’n Inwoner het vandeesweek op voorwaarde van anonimiteit aan Paarl Post gesê dit gaan haar verstand te bowe dat die munisipaliteit tot nou nog nie die oortreders vervolg het nie.
“Ek is nie presies seker wie die maatskappy is en waarvoor die materiaal gebruik word nie, maar dis definitief mense in die konstruksiebedryf aangesien dit bourommel is wat hulle kom stoor en dan gereeld bietjie vir bietjie weer kom oplaai.
“Hier het eendag net ’n groot stootskraper en vragmotor opgedaag en die rommel kom stort – in ’n woongebied. Kan jy dit glo?”
Sy sê die woonbuurt word sedertdien deur geraas en stof geteister.
“Ek is ’n enkelma wat as ’n sjef werk met baie ongereelde ure. Ek moet party dae dus deur die dag slaap, maar ek kan eenvoudig nie weens die konstante geraas van trekkers en vragmotors wat hier in en uit beweeg.
“Daar is nou oral stof. Ons moet gereeld vensters was. Die kinders se beddegoed moet ook nou meer gereeld vervang word omdat hul voetjies deesdae alewig vuil en vol stof is.
“Hoe kan hulle verwag dat enige mens só moet leef?”
Sy sê sy woon al die afgelope 16 jaar in die buurt en is, tesame met ander inwoners, erg geskok dat die maatskappy die buurt op hierdie wyse ingedring het.
“Ons is destyds meegedeel hierdie stuk grond is ’n park. Baie streng reëls is aan ons voorgehou, soos dat geen voertuie selfs daar mag ry nie.
“Tot ’n paar jaar gelede het die raadslede hard geraas gemaak indien inwoners van elders hier (materiaal) kom stort het. Oortreders is vervolg. Ek verstaan dus regtig nie wat hierdie situasie nou anders maak nie.”
Louis Pienaar, uitvoerende direkteur vir ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, het by navraag aan Paarl Post bevestig die grond behoort aan die munisipaliteit en ’n ondersoek intussen van stapel gestuur.
“Ons is besig om die beweerde storting te ondersoek. Die munisipaliteit duld geen onwettige storting onder enige omstandighede nie en het al swaar boetes uitgereik. In die geval van materiaal soos bourommel, wat sonder plastiek-sementsakke, hout en ysters is, doen ons ’n beroep op inwoners om van die stortingsterrein in Wellington gebruik te maak. Dit kan gratis daar gestort word.”
Pienaar sê inwoners word aangemoedig om eienaarskap te neem van hul omgewing en nie rommel onwettig te stort nie.
- Skakel 080 131 3553 om die onwettige storting van rommel tolvry te rapporteer.


