Dit was die afgelope naweek só teleurstellend om vir die hoeveelste keer weer afbrekende opmerkings op sosiale media te lees oor onder meer Manie Libbok se skopvermoë tydens Suid-Afrika se jongste rugbykragmeting teen Argentinië.
Swak sportmanskap – daar is werklik geen ander manier waarop dit beskryf kan word nie.
Wat baie sukkel om te verstaan, is dat daar ’n groot las en druk op veral ’n skopper se skouers rus wat ’n nasionale span met internasionale status verteenwoordig. Om spelers af te breek wanneer dinge nie volgens plan verloop nie, is onregverdig en kortsigtig.
Aan die einde van die dag moet ons onthou dat hierdie spelers ook maar net mens is. Hulle het ook gevoelens. Hulle het ook toegang tot sosiale media. Hul kinders, familielede, eggenote en geliefdes word seergemaak deur die skokkende opmerkings wat aanlyn gemaak word.
Hierdie gedrag, wat geen plek in sport het nie, is ook sigbaar op plaaslike vlak. Ons betree nou juis die immergewilde Sanlam-Boland-Top-12-rugbyreeks. Ons spelers gee hul alles in ’n poging om hul onderskeie klubs te laat presteer. Kom ons gebruik liewer hierdie energie om spelers op te bou – hulle het net ons positiewe bydrae nodig.