Botsing in die Paarl eis lewe van geliefde plaaslike aktrise (26)

Die jong en talentvolle Hamoniq Martin se lewe is die afgelope naweek kortgeknip nadat sy in ’n motorbotsing in die Paarl was.


Die jong en talentvolle Hamoniq Martin se lewe is die afgelope naweek kortgeknip nadat sy in ’n motorbotsing in die Paarl was.

Volgens kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder vir die Paarl-Oos polisie, het die botsing Sondagoggend (10 November) omstreeks 05:00 in Jan van Riebeeck-rylaan naby die Groenheuwel-woonbuurt gebeur.

Die 26-jarige vrou se skielike dood het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur – veral omdat sy so geliefd was. Martin was ’n lid van die Paarlse dramagroepDie Geheim Tussen Ons. Wat die slag van haar dood nog erger maak – veral vir die medelede van die dramagroep – is dat hulle die aand tevore ’n opvoering in die Ou Meul-teater aangebied het.

Hamoniq Martin (26)

Hamoniq Martin (26)

Caron Saxon, wat ook lid is van die dramagroep, beskryf Martin as iemand wat vir drama gelewe het.

“Sy was ’n sprankelende mens en by Die Geheim Tussen Onsdramagroep is waar sy net haarself kon wees. Dit is waar sy liefde ontvang het. Vrydag- en Saterdagaand het sy gespeel asof dit haar laaste was.

“Sy het alles gegee met soveel egtheid, dat ek wat die regisseur was, in die gehoor na haar gesit en kyk het. Ek kon nie my oë van haar afhaal nie, want sy het haar karakter so beautiful gespeel.

“Hamoniq was iemand wat omgegee het – nie net vir haarself en vir haar kinders nie, maar vir elke mens na aan haar. Haar liefde het van binne na buite uitgestraal. Dit is wie sy was. Ek gaan haar baie mis.”

Die teaterstuk van die groep wat die afgelope naweek op die planke was, staan ook bekend as Die Geheim Tussen Ons, vertel Saxon.

“Dit gaan oor ’n paartjie wat getroud is, maar die man is tydens hul getroude lewe verkrag. Die storie is gegrond op mans om vir hulle te sê dit is oukei om nie oukei te wees nie. Hamoniq het die rol van Lizzie vertolk; die een wat altyd uit haar beurt gepraat het.

“Die dramagroep bestaan al drie jaar. Ons gaan in Januarie volgende jaar ’n kortfliek skiet, waarin Hamoniq ook ’n rol gehad het.”

Personeel van die Ou Meul-teater het intussen ook hul medelye met Martin se geliefdes betuig.

Seekoei het verder bevestig dat speurders van die Paarl-Oos-polisie ’n saak van strafbare manslag ondersoek. Geen ander voertuie was by die voorval betrokke nie.

“Blykbaar het ’n Nissan Micra teen twee voetgangers gebots, van die pad af geswaai en daarna teen ’n paal gebots. Een insittende is op die toneel dood. Twee voetgangers en nog ’n insittende het ernstige beserings opgedoen. Die oorsaak van die botsing word tans ondersoek.”

Intussen het tientalle mense hul medelye op sosiale media gedeel. Een inskrywing lui soos volg: “Dis steeds so onwerklik en moeilik om te process. Sy’t net geweet hoe om ons te laat lag en altyd ’n vibe gebring. Sy sal altyd daarvoor onthou word.”

Nog iemand het haar hartseer oor die skielike heengaan van Hamoniq gedeel.

“Rus in vrede, vriendin. Jy het jou lewe gelewe. Ja, dit is seer, maar ons gee jou daai eer om deel te wees van die engele se dramagroep.”

Paarl Post het probeer uitreik na die Martin-familie, maar dit was sonder sukses.

Teen druktyd is geen begrafnis­reëlings vir Martin nog bekend gemaak nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.