Van links staan dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse LUR van landbou, Shannon Robertson, dr. Mogale Sebopetsa, die hoof van die Wes-Kaapse departement van landbou, en Pieter van Zyl van Freshmark. Foto: Verskaf
Van links staan dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse LUR van landbou, Shannon Robertson, dr. Mogale Sebopetsa, die hoof van die Wes-Kaapse departement van landbou, en Pieter van Zyl van Freshmark. Foto: Verskaf

FRANSCHHOEK — Shannon Robertson van die Boschendal-wynlandgoed is Saterdag (1 November) tydens ‘n provinsiale gala-aand as die Wes-Kaap se Landbouwerker van die jaar aangewys.

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar wat ‘n landbouwerker uit die Franschhoek-streek met dié toekkening vereer word.

Lindie-Alet van Staden van L’Ormarins-landgoed in Franschhoek het verlede jaar met die toekenning weggestap.

Dié toekennings word jaarliks deur die Wes-Kaapse departement van landbou, in samewerking met die Shoprite-groep, aangebied.

Landbouwerkers word in 11 afdelings vereer – nie net vir hul bydrae tot die landboubedryf nie, maar ook vir hul eie unieke bydrae tot ‘n gesonde werksomgewing op hul plase.

Die algehele streekswenner van elk van die altesaam 15 streke kwalifiseer outomaties om vir die provinsiale toekenning in aanraking te kom.

Robertson is vanjaar aangewys as die algehele landbouwerker van die Franschhoek-streek.

Sy het by Saterdag se gala-geleentheid tydens ‘n regstreekse onderhoud met Paarl FM gesê haar wense is vir die kompetisie om voortaan te groei.

“Hierdie beteken vir my ongelooflik baie. Ek hoop dat dit vir vroue in die land ‘n inspirasie sal wees en eintlik maar almal in die landbou-sektor.

“Ek hoop dat my storie en my aksies ander sal inspireer om hul beste te gee. Daar is natuurlik ook so baie mense wat voor my gekom het, na wie ek opkyk en dankbaar voor is.

“Ons moet aanhou om die landbou-sektor vorentoe te stoot en meer deelname aan hierdie tipe kompetisies aanmoedig.”

Leandré Davids, verbonde aan die Franschhoek Wine Valley en die streek se koördineerder vir die kompetisie, het by navraag gesê sy is verheug dat Franschhoek vir die tweede agtereenvolgende jaar op provinsiale vlak vereer word.

“Dis vir my ‘n riem onder die hart en ek is so trots dat ons weer kon wen.”

Die landbouwerker-kompetisie het in 2002 begin.

You need to be Logged In to leave a comment.