Paarlberg se waardevolle en beskermde olienhoutbome word gestroop, en dit vir vuurmaakhout.

Die afgelope naweek weer is ’n rooi bakkie van Ceres deur ’n veiligheids­kamera afgeneem waar mense naby die Taalmonument op Paarlberg vermoedelik weer olienhoutbome afgesaag het. Hiervan was daar die hartseer bewyse van olienhoutboom­stompe wat gestroop is.

’n Vroegoggend-stapper wat Sondag omstreeks 08:00 op Jan Phillips-bergpad naby die amfiteater gestap het, het op die rooi bakkie afgekom en gehoor hoe mans ’n entjie van die pad af tussen digte bosse met ’n kettingsaag werk.

Hy het agterdogtig geraak en die munisipaliteit se reservaatkantoor op die berg gebel om die voorval aan te meld.

’n Munisipale werker op die berg het aan hom gesê hy is reeds hieroor ingelig en is op pad na die toneel.

“Ek het by Victoriadam teruggedraai na die toneel en die munisipale bakkie van die reservaat het verby my gery.

“Die bestuurder het by die toneel gestop, maar nie uitgeklim nie. Toe ek nader kom, het vier mans inderhaas uit die bos gehardloop en agterop die bakkie gespring. Ek het hulle probeer keer en gevra wat hulle doen en gesê hulle mag nie bome afsaag nie. Hulle het met my begin stry.”

Die bakkie wou ook nie aanskakel nie, en van die mans moes dit aan die gang stoot.

Eers toe die bakkie aan die ry was, het die munisipale bakkie dit agtervolg, maar hiervan het ook niks gekom nie.

Volgens inwoners van Courtrai en ander gebiede teenaan Paarlberg is dit nie die eerste keer dat hierdie bakkie, of ander mense wat ook bome stroop in Paarlberg, opgelet word nie. Ook in die gebied van Klein Reservoirstraat in Paarl-sentraal is daar na bewering ’n man wat olienhoutbome afkap teen die hange van Paarlberg en vir vuurmaak­hout verkoop.

Hierdie stropery is telkemale by die Drakenstein-munisipaliteit aangemeld wat verantwoordelik is vir die bestuur van die berg, maar dit word eenvoudig geïgnoreer.

Drakenstein-munisipaliteit het aan Paarl Post erken die stroop van inheemse olienhout- en klipkersbome vir vuurmaakhout is tans ’n groot probleem, nie net op Paarlberg nie, maar ook in die Du Toitskloof- en Limietbergpas.

“Die houtstropers kom in die vroeë oggendure en laatnag met toerusting en beligting. Die munisipaliteit doen wel patrollies op die Paarlbergpad, en vra dat lede van die publiek klagtes aanmeld en ook foto’s stuur met die ligging. Dit help ons om te sien deur wie en waar onwettig op die berg bome gekap word, en vir ons wetstoepassings­afdeling om dan op te tree.

Permitte vir die uitsny van uitheemse bome soos Black Wattle, Port Jackson, en denne- en bloekombome is beskikbaar van Julie tot Oktober. Geen inheemse bome mag gesny word nie en ons vra permithouers om asseblief onwettige houtmakers aan te meld.

Inligting oor enige onwettige stropery kan aangemeld word by die Paarlberg- reservaatkantoor by 021 807 6231 of by die wetstoepassingsafdeling by 21 807 8508 (alle ure).

. Paarl Mountain’s few remaining indigenous trees such as wild olives are being illegally harvested for fire wood, but no action is being taken. Although it has been reported to the Drakenstein Municipality, a blind eye is apparently being turned.

You need to be Logged In to leave a comment.