Vrywilligers wat gehelp pak het aan die ACVV-kenteken op die rugbyveld van Hugenote Hoërskool.Foto: Engela Duvenage


Wellington se “Tree of Hope”-kersboomprojek vorder fluks noudat vrywilligers van die Wellingtonse ACVV-tak reeds tasse vol wolblokkies gehekel en gebrei het.

Onlangs ook is die woord “ACVV” op die rugbyveld van Hugenote Hoërskool stuk-stuk met 7 176 blokkies uitgespel. Ook is ’n sowat 10 meter lange plat Kersboom langs dié afkorting van dié welsynsorganisasie uitgepak. Dié wolboom simboliseer hul mikpunt om vroeg in Desember ’n hoë driedimensionele Kersboom in Wellington op te rig – een wat van bo tot onder in die wol-handewerk van vrywilligers getooi is en die grootste van sy soort nog in Suid-Afrika sal wees.

Oorblywende lappies sal aan mekaar vasgewerk word om winterskomberse vir behoeftiges te word. Kleiner blokkie-boompies sal ook gemaak word om geld vir die maatskaplike projekte van die plaaslike ACVV-tak in te samel.

Sorita Stofberg van die ACVV- Wellington-tak het die idee agter die “Tree of Hope” gekry toe sy foto’s van soortgelyke lappiesprojekte in onder meer Italië en Nieu-Seeland op sosiale media gesien het.

“Ons wil ’n ikoon staanmaak wat die hele gemeenskap sal geniet en kan bewonder en wat selfs toeriste na ons dorp sal lok,” vertel sy. “Ons wil ook daardeur vir die ACVV Wellington geld insamel om die gemeenskapsdienste wat ons maatskaplike dienste-afdeling verrig, te help finansier.”

As deel van die projek is hekel-en-breisessies oor die dorp heen gehou, waartydens handvaardiges aan 15×15-cm-blokkies gewerk het.

“Al hierdie inisiatiewe is deur ons fantastiese vrywilligers gereël,” sê Stoffberg. Die toegangsfooi was telkens nie-bederfbare produkte wat ons as deel van ons ACVV-kostrollieprojek aan minderbevoorregtes kan uitdeel.”

Skenkings van blokkies en wol is weldra van oor die Boland, Weskus en selfs die Noord-Kaap verkry.

’n Geldinsamelingsveldtog om vir die oprigtingskoste te betaal, is nog onderweg. Die stellasie word gedeeltelik deur CFC Scaffolding geborg.

Stofberg sê die projekspan is baie dankbaar vir skenkings wat reeds by plaaslike ondernemings en ander skenkers ontvang is. Sakeondernemings kan byvoorbeeld R500 se advertensies uitneem, wat rondom die boom geplaas sal word.

’n Verdere behoefte is hande wat kan help om die blokkies betyds aanmekaar te werk.

Stofberg hoop die idee agter die Wellington-ACVV-tak se “Tree of Hope”-projek vat landwyd vlam sodat ander dorpe ook in komende jare hul eie handgemaakte Kersbome sal wil oprig. Sy sê sy stuur graag die stellasie wat gebruik gaan word, aan vir ’n volgende dorp wat ’n soortgelyke projek sou wou dryf.. Vir navrae oor hoe om ook betrokke te raak, bel Sorita Stofberg by 082 415 1598. Volg die projek aanlyn by www.facebook.com/Treeofhopeproject

You need to be Logged In to leave a comment.