Die Paarl-krieketklub (PKK) het verlede Saterdag in Boland Krieket se Premierliga teen Worcester United op Boland Park beïndruk toe hy gemaklik met ses paaltjies gewen het.
Dit plaas PKK in die vierde posisie op die punteleer van 10 spanne.
Die tuisspan is ingestuur om te kolf en was vroeg in die moeilikheid op 40/4 toe die 17-jarige Taywin Adams (10-4-29-4) met die bal amok gemaak het. Hy is goed bygestaan deur Herschelle Poggenpoel (8-0-28-2) terwyl Taigh Schoor, Henrico Albertus, Waylain September en Javier Visser elk een paaltjie kon kry.
Edward Felix (74, 4×4, 1×6) het vir Worcester United (169 in 50 boulbeurte) uitgeblink, maar Byron Buys (21) en Lorenzo Bailey (20) se bydraes was nie genoeg om PKK onder druk te plaas nie.
Voordat hy die veld met ’n besering moes verlaat, het Visser (54, 5×4, 2×6) bestendig gekolf om die besoekers op die wenpad te plaas. Sy vierdepaaltjievennootskap van 78 lopies met Poggenpoel (35, 4×4) het die knoop deurgehaak. Vir die tuisspan het Ussiel Langeveldt (10-0-45-2) die beste boulsyfers behaal, met goeie ondersteuning van Alexander Booysen en Marshin Jeftha.
Paarl II het op die Parysveld ook geseëvier toe hy Worcester United II met drie paaltjies geklop het. Die besoekers (246) het hul telling te danke aan Charlton Daniels (82, 7×4, 4×6), maar die Paarlse kaptein, Aqeeb Douman (7-0-32-4), het die ander kolwers onder beheer gehou. Douman (77, 9×4, 1×6) het ook met die kolf uitgeblink, met ander goeie bydraes van Liam Muller (38), Leswin Titus (29) en Cullen Heugh (22).
Saterdag speel PKK tuis teen Bergrivier KK, terwyl Paarl II reis vir sy wedstryd teen Bergrivier II.


