Bome verfraai kerkterrein

Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) het onlangs die historiese Andrew Murray NG gemeente op Wellington ondersteun met die aanplant van bome.


Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) het onlangs die historiese Andrew Murray NG gemeente op Wellington ondersteun met die aanplant van bome.

Daar is 33 waterbessie-, rooiels- en geelhoutbome op hul parkeerterrein, en 17 luiperdbome rondom die kerkgebou en 50 olyfbome tussen die ou historiese grafte geplant as deel van die kerk se opknappingsprojek van die grafte.

Uitvoerende burgemeester van die KWDM, dr. Helena von Schlicht en Lodewyk Niehaus (portefeuljehouer vir munisipale gesondheidsdienste) het kom hand bysit met die plant van die bome saam met Dawie Theron van die NG moedergemeente in Wellington.

Die munisipale gesondheidsdienste van die KWDM pak jaarliks ’n vergroeningsprojek aan. Die projek behels die verskaffing en aanplant van inheemse bome en struike aan niewinsgewende organisasies soos skole, crèches, hospitale, klinieke, ouetehuise, kerke, publieke oop ruimtes en ontspanningsfasiliteite.

Die opbrengs uit die toekomstige oeste van die olyfbome op die kerkterrein sal ook aangewend word om as werkskeppingsprojek te dien en sodoende bydra tot armoedeverligting.

Die vergroeningsprojek dra by tot welvaartskepping en werkskepping in die Kaapse Wynlanddistrik deurdat alle bome en struike direk by plaaslike kwekerye aangekoop word. Kleinskaalse kontrakteurs word aangestel om die bome te plant wat weer op hul beurt plaaslike arbeider in diens neem.

Organisasies word ook ingelig rakende die belangrikheid van bome, hoe om bome te versorg en om eienaarskap van bome in hul omgewing te bevorder.

Die feit dat bome suurstof produseer dra ook by tot die uiteindelike doelwit van die projek: om die koolstofvoetspoor van die KWDM se populasie te verminder.

Met die huidige droogte in ag geneem, fokus die KWDM veral op instansies wat hul eie waterbronne, soos boorgate, het.

Hierdie jaar het die KWDM ’n totaal van 440 bome in die Drakensteingebied geplant. Die begunstigdes sluit in: Hoër Landbouskool Boland, Fyngoud, Huis McCrone-kliniek, Bybelmedia, Voor Groenberg Primêre Skool, Newton Bejaardesorg, Van Wyksvlei Primêr en The Gathering Church, New Orleans.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.