Newtons se skrumskakel, Ulrich Abrahams, gooi die bal hier uit na veiligheid. Foto: Roswall de Vries


Newtons RVK het die pasaangeër op die punteleer, Hillcrest United, Saterdag (20 Mei) in ’n Boland-Grootuitdaagbekerwedstryd op ’n volgepakte Pelikaanpark met 19-8 getroef.

Wilfred Bowers se doelskop uit die hoekie in die laaste minute van die wedstryd het Newtons die oorwinning besorg. Bowers het in die eerste helfte met twee strafskoppe misluk, maar goeie karakter getoon en was ook gevaarlik op die aanval.

Hy het ook ná die wedstryd gewys hy kan nie net rugby speel nie en het sy ondersteuners met ’n interessante danspassie vermaak.

Dit was ‘n klipharde wedstryd tussen die twee buurspanne, met Hillies wat die eerste helfte oorheers het.

Gilton Mangena, wat ’n goeie wedstryd beleef het, het sy span se eerste drie aangeteken, verdoel deur Kyle Marthinussen. Beide spanne was bereid om die bal lug te gee en goeie agterlynbewegings van stapel gestuur. Die skeidsregter, Gabriël Mars, het nie ’n goeie dag met die fluitjie gehad nie. ’n Paar vreemde beslissings en vyf geelkaarte – Hillies (3) en Bombies (2) – het die wenkbroue laat lig.

Hillcrest het in die eerste helfte net dertien spelers op die veld gehad, maar Newtons kon nie daaruit munt slaan nie. Sy loskakel, Kyle Marthinussen, het later drie punte by sy span se telling gevoeg, wat hom rustyd 10-0 laat voorloop het.

Newtons het ná die afskop onmiddellik teruggeslaan met ’n goeie rolmaalbeweging deur sy voorspelers, afgerond deur Renaldo Petersen en verdoel deur Bowers. Newtons het ’n beter tweede helfte beleef deur die bal in die hand te hou by sy strukture te hou. Newtons het die voortou 15-13 geneem nadat Ryan Jordaan agter die doellyn gaan kuier het.

Hillcrest het egter aanval op aanval van stapel gestuur, wat Mangena sy tweede drie besorg het. Newtons het goeie veggees en karakter getoon toe Devrudin Abrahams sy span se derde drie aangeteken het.

Volgens Francois Booysen, afrigter van Hillies, was dit ’n klipharde wedstryd wat in goeie gees gespeel is. “Newton was hongerder as ons om die wedstryd te wen.”

Nazeem Jooste, Newtons se afrigter, is van mening dit was ’n spanpoging en sy span het goeie karakter op die aanval en verdediging getoon. Hy is ook tevrede met sy span se dissipline en was vol lof vir Bowers, Endrico Claasen en die kaptein, Colin April.

* Puntemakers:

Hillcrest 18 – drieë: Gilton Mangena (2); doelskoppe: Kyle Marthinussen; strafdoele: Marthinussen (2)

Newtons 19 – drieë: Renaldo Petersen, Devrudin Abrahams, Ryan Jordaan; doelskoppe: Wilfred Bowers (2)

You need to be Logged In to leave a comment.