Newton (Bombelas) het in ’n baie opwindende en spannende derbywedstryd met ’n hoogaangeskrewe Hillcrest United afgereken.
’n Volgepakte Newtonpark het hom Saterdag reggeskud vir ’n stryd soos min en is nie teleurgestel nie.
Eers het Curtley Davids (Nankies) met ’n skepskop geslaag en net daarna het twee skepskoppe deur Desti Davids (skrumskakel) en Johain Brown (senter) Newton skielik 9-0 voor geplaas.
Hillcrest het egter onmiddellik teruggeslaan met ’n rolmaalbeweging van ’n lynstaan af en die manne kon gaan water drink met die telling op 9-8 in Newton se guns.
Groter drama het in die tweede helfte gevolg nadat Hillcrest inisiatief geneem en aanval na aanval van stapel gestuur het, maar Newton se verdediging was soos die rots van Gibraltar. Dit was egter sy vuurvreterflank Jason Fortuin wat die skare met sy kragspel op hul voete gehad het en hy het 40 meter ver genael vir ’n drie wat die telling skielik 16-8 gemaak het.
Die uitgeslape Desti Davids (skrumskakel) het die bal van ’n strafskop af vinnig getik en van sy eie helfte af dwarsdeur gehardloop om die telling 23-8 te maak.
Die Hillcrest-ondersteuners en -spelers het gelyk asof hulle aan bomskok ly en was doodstil terwyl die Newton-ondersteuners gekraai het van die lekkerte en luidkeels begin sing het.
Net hierna het die windhond Keaton Booysen (vleuel) ’n bal onderskep en regdeur genael om ’n drie onder die pale te gaan druk (telling 30-8).
Hillcrest het twee troosdrieë deur Ricardo Festus (haker) en Geoffrey Allies (flank) aangeteken, maar die skade was gedoen.
Voorlangs het Wesley Goosen (stut), Jaquin Ruthford (nr. 8) en John Jantjies (haker) Hillcrest behoorlik met hul kragtige lopies en plettervatte laat les opsê. Agterlangs was Curtley Davids (losskakel) ’n ware generaal wat Hillcrest telkemale met sy taktiese skoppe laat omdraai het (eindtelling 30-22).
Die derde span het 14-7 verloor en die tweedes het 21-10 gewen.
Hierdie naweek is dit weer derby teen Roses United wat onverwags teen Saron vasgeval het.
’n Magdom toeskouers word verwag en ondersteuners word gevra om maar vroeg by Newton Park aan te meld, want “hier kom groot drama”.