Miané Eksteen (11) en Sebastian Sonnekus (12), albei van Wellington, is twee kranige vegters wat vir die 2024-karate-wêreldkampioenskap in Mexico gekies is.
Van Heerden sal in die kata-, kumite- en kobudo-afdelings vir 18 tot 35 deelneem, met almal in dié afdelings wat ’n swartgordel het, terwyl Sebastian ook in al drie afdelings sal meeding, maar in die kategorie vir twaalfjariges met ’n bruin- tot swartgordel.
Miané sal meeding in die kata- en kumite-afdelings vir elfjariges met ’n bruin- tot swartgordel.
Van Heerden is ’n geliefde afrigter wat reeds van vyfjarige ouderdom af karate beoefen en in 2012 op 19-jarige ouderdom besluit het om dit sy voltydse werk te maak.
Hy besit tans die Boland Dragons-karateskool wat takke in Wellington en die Paarl het.
Hy kom van Gqeberha, maar woon reeds etlike jare in die Paarl en het ook in 2014 aan die Hoërskool Gimnasium Paarl gematrikuleer.
Miané is tans in gr. 6 by die Laerskool Hugo Rust in Wellington, terwyl Sebastian tuisonderrig ontvang.
Al twee dié leerders het reeds op ’n jong ouderdom met karate begin, met Miané wat ses was, en Sebastian vier en ’n half – terwyl hy volgens sy ma, Elizna, nog in ’n “speelskooltjie” was.
Marisca Eksteen, Miané se ma, het op haar beurt verduidelik haar dogter het eers met ballet begin, maar nadat sy die nuus ontvang het dat sy “te rof” was vir ballet, het sy haar aandag elders gewend en eerder aan karate begin deelneem.
Miané, Sebastian en JP beplan om Mexico vir sowat tien dae te besoek.
Die kompetisie duur van 11 tot 14 Julie en dié drie sal teen die wêreld se vooraanstaande vegters meeding.
Volgens hul ouers is hul kinders baie opgewonde, en is hulle trots op hul kroos wat sulke hoogtes bereik het en van die land se beste vegters is.
“Die toewyding is vir my baie mooi. Ek het nooit gedink my kind gaan soveel motivering hê nie,” het Elizna oor Sebastian gesê.
Die twee karate-vegters oefen vier keer per week onder die leiding van Van Heerden by sy karate-skool, maar skaaf en skuur ook verder aan hul talent in hul vrye tyd by die huis.
Van Heerden oefen ses keer per week – meestal op sy eie.
Miané spog met ’n vlak 2-bruingordel, Sebastian met ’n vlak 3-bruingordel en Van Heerden met ’n swartgordel (vierde dan).
Die kostes om hierdie Mexikaanse avontuur ’n werklikheid te maak, beloop tussen R60 000 tot R70 000 per persoon, wat basiese onkostes soos vliegtuigkaartjies, verblyf, kleredrag en etes insluit.
Volgens Elizna word ’n gesamentlike geldinsameling gehou om genoeg geld vir al drie karate-vegters in te samel deur onder meer lootjieprojekte van stapel te stuur.
Elizna verduidelik nog net sowat 12% van die algehele bedrag is reeds ingesamel.. Kontak Van Heerden by 079 394 2697 met navrae en om ’n welkome en gewaardeerde bydrae te maak. . ’n YouTube-video is ook vrygestel waarin die drie talentvolle karate-vegters meer oor hul sport vertel. Kyk op https://www.youtube.com/watch?v=lLZkxyk3dtA