Die Rugbywêreldbekertoernooi is vandeesweek weer op Bolanders se lippe nadat die Springbokke in ’n naelskraapstryd met een punt teen die Rose gewen en na die eindronde teen Nieu-Seeland deurgedring het.
Buiten die angstige wedstryd, wat verskeie Bolanders op die punte van hul stoel laat sit het, en selfs ’n 12-jarige Paarliet só benoud gemaak het dat sy ma hom suikerwater ingejaag het, is ses van die Bokke ook verbonde aan die Wynland.
Hierdie feit maak die wêreldbeker soveel meer persoonlik vir veral Paarliete, waar van die spelers grootgeword het en op skool was.
Sport, en veral rugby, het ’n manier om ’n nasie te herenig, soos oudpres. Nelson Mandela by 1995 se Rugbywêreldbeker tereg gesê het.
Duisende Bolanders het in kroeë, restaurante en tuis gekyk en orals – selfs in die strate – saamgedrom nadat die eindfluitjie vir dié naelbytstryd geblaas het. Mense van verskillende agtergronde het saam gejuig, mekaar gedruk, en behoorlik feesgevier nadat ’n groot doel bereik is, naamlik die Springbokke se oorwinning teen die Engelse Rose. Nou vir die Kiwi’s . . .