Die Boland Kavaliers het sy Curriebeker-veldtog op ’n hoë noot afgeskop nadat hy Saterdag met die Grens Bulldogs op die King Edward-stadion in Montagu afgereken het.

Die Kavaliers het ’n 31-20-bonuspunt-oorwinning in die eerste divisie van dié kompetisie behaal nadat hy rustyd 7-12 agter was.

Boland se regtervleuel, Warren Williams, het sy span se drieë-rekening in die eerste minuut van die wedstryd geopen, met die losskakel Garrick Mattheus wat in die kol was met die doelskop. Dit was egter sy linkervleuel, Valentino Wellman, wat as die speler van die wedstryd aangewys is danksy sy driekuns van drieë wat grootliks tot Boland se sege bygedra het.

Wellman het, nadat Grens se Lelethu Gcilishana (vleuel) en Athenkhosi Khetani (slot) elk ’n drie in die eerste helfte behaal het om aan die Bulldogs die voortou te besorg, die eerste twee van sy drie drieë vroeg in die tweede helfte behaal.

Grens het teruggeslaan met ’n drie deur die flank Billy Dutton, maar drieë in die laaste 10 minute deur Boland se stut Clinton Theron, asook Wellman se derde drie in die doodsnikke, het ’n oortuigende sege aan Boland verseker.

Puntemakers:

Boland Kavaliers – drieë:

Warren Williams, Valentino Wellman (3), Clinton Theron, doelskoppe: Garrick Mattheus, Joshua Vermeulen (2)

Grens Bulldogs – drieë:

Lelethu Gcilishana, Athenkhosi Khetani, Billy Dutton, doelskop: Aphiwe Stemele, strafdoel: Aphiwe Stemele

Boland se volgende wedstryd is Saterdag 13Julie teen die Argentynse Jaguares in Potchefstroom.

You need to be Logged In to leave a comment.