Die Boland is die tuiste van legendariese rugby en met spelers soos Kurt-Lee Arendse, Grant Williams, Canan Moodie, Handré Pollard en talle ander wat tans die land by die Rugbywêreldbeker in Frankryk verteenwoordig, is dit ’n lewende getuienis van wat hierdie streek kan oplewer.
Dít was Maandag die woorde van Boland Rugbyunie (BRU) se leierskap tydens die bekendstelling van die plaaslike klubs wat vanjaar aan sy Top-12-klubkompetisie gaan deelneem.
Die unie se 216 plaaslike klubs met altesaam 1 261 spelers oor drie distriksmunisipaliteite ding jaarliks in hul onderskeie streke teen mekaar mee vir ’n plek in die Top-12, wat hulle een stap nader aan die BRU se Grootuitdaag-wisseltrofee bring.
Saldanhabaai het verlede jaar met die trofee weggestap.
Die Top-12-toernooi begin Saterdag (21 Oktober). Die twaalf klubs sal oor die volgende vyf naweke teen mekaar speel.
Die halfeindronde is op 25 November en eindronde op 2 Desember. Hierdie twee wedstryde vind by die BRU se sportterrein in Wellington plaas.
Die Top-12-wedstryde sal regstreeks deur die SABC uitgesaai word.
Bennie van Rooi, die BRU se president, het by Maandag se geleentheid gesê die hoëgehalte rugby wat vanjaar deur plaaslike klubs gespeel is, asook die vennootskappe wat die BRU met borge aangegaan het, is ’n positiewe stap vir die unie om sy aspirasies te verwesenlik.
“In my visie praat ek van hoop, geleenthede, asook eenheid en vernuwing. Ons het nou vennote soos Sanlam aan boord. Ons kan nie nou meer ’n grondslag-benadering hê nie. Ons moet nou ons vlerke na die Curriebeker en URC (Verenigde Rugbykampioenskap) begin sprei. Dit is waar ons uiteindelik wil wees.
“Ons visie is om in 2027 die Curriebeker in die Kaap of op Loftus te wen. Ek dink egter dit gaan al in 2025 gebeur. Julle moet jul harte uitspeel,” het Van Rooi gesê.
Divan Joshua, Saldanhabaai se kaptein, het by die geleentheid aan Paarl Post gesê sy span gaan sy 2022-titel ten sterkste verdedig.
“Dit is baie sterk spanne wat aan vanjaar se Top-12 deelneem. Altesaam vier voormalige kampioene gaan in dieselfde ronde meeding. Bolandspanne is gewoonlik baie onvoorspelbaar. Daar is nie regtig ’n spesifieke manier hoe jy jou vir ’n wedstryd kan voorberei nie. Ons maak ons dus gereed vir enigiets.”
. Die klubs wat aan vanjaar se Top-12-klubkompetisie gaan deelneem, is Saldanhabaai, Robertson, Vanrhynsdorp Eagles, Hawston, Safcol United, Roses United, Wesbank, Darling, Bella Vista, Delicious, Young Hamiltons en Mamre.