‘n Groep Bolandse skeidsregters eis die dringende verwydering van die voorsitter asook die adjunkvoorsitter van die Boland-rugbyunie (BRU) se skeidregtersvereniging.
Die skeidsregters het daarin geslaag om die unie te kry om in ‘n algemene vergadering vir komende Dinsdag (25 November) te belê, waartydens ‘n wantrouemosie teen die twee bestuurslede ingedien sal word.
Paarl Post het ‘n brief onder oë gehad, wat op 3 Oktober deur die groep skeidsregters aan die unie gerig is en waarin hulle onder meer aanvoer dat hulle nie meer vetroue in die skeidregtersvereniging se voorsitter, Sebastian Abrahams, en sy adjunkvoorsitter, Allen Williams, het nie.
“Sy afwesigheid spreek boekdele.
“Daar is ‘n gebrek aan kommunikasie.
“Ons as skeidsregters weet nie wat in die vereniging aangaan nie, want ons het slegs twee ledevergaderings vir die jaar tot nou gehou,” lui die brief.
“Die vergaderings is noodsaaklik vir die suksesvolle administrasie van ‘n vereniging.
“Die feit dat die voorsitter Saterdae by klubrugbywedstryde kommentaar lewer, is werklik ‘n bron tot kommer. Het hy [ook] tyd om na skeidsregters se vertonings te kyk en raad te verskaf?
“Dit lyk asof die voorsitter van hierdie vereniging wil dikteer en vir sekere individue sal wys hy sal doen wat hy voel reg is om te doen. Dit is die rede hoekom dinge in hierdie vereniging besig is om uitmekaar te val.
“Dit lyk asof die voorsitter alleen besluite neem en selde ‘n mandaat by sy medebestuurslede kry,” skryf die skeidsregters verder in die brief.
Die skeidsregters haal dan verder aan uit die skeidsregtersvereniging se beleid vir algemene bestuur, wat vir wantrouemosies voorsiening maak.
“Ons versoek ‘n tydige en gepaste reak- sie op hierdie kennisgewing en dat hierdie mosie so gou as moontlik vir bespreking geskeduleer word,” sluit hulle hul brief af.
Linston Manuels, die BRU se afrigtersbestuurder, het die egtheid van die brief by navraag bevestig, asook van ‘n brief wat deur die unie uitgereik is waarin hy bevestig dat die wantrouemosie komende Dinsdagaand op ‘n algemene vergadering gaan dien.
Die mosie is die enigste punt op die sakelys.
“Die inligting is heeltemal korrek. Ons kan bevestig dat ‘n mosie wel teen die twee betrokke lede gebring is.
“Die mosie, wat vir volgende Dinsdag net ná die Top-12-eindstryd geskeduleer is, is nog op track.
“Skeidregters het hul ongelukkigheid uitgespreek oor hoe die vereniging bestuur word – veral deur die voorsitter.
“Daar is natuurlik verskeie redes wat deur die skeidsregters aangevoer is.
“Ons skeidsregters se grondwet maak voorsiening vir sulke mosies, wat deur minstens 10 skeidsregters ondersteun en geteken moet word, wat wel hier die geval was,” het Manuels gesê.





