Ná ‘n lang en duur stryd om sy lidmaatskap, wat selfs in die hooggeregshof gedraai het, lui die vredes- (en vreugde-) klokke by Franschhoek se La Motte-rugbyklub nadat die Boland Rugbyunie (BRU) hom as volwaardige lid aanvaar het.
Die klub en sy toeskouers het op 31 Mei die uitkoms van ‘n vergadering deur die BRU in Wellington met angs dopgehou waar die BRU sy besluit om lidmaatskap aan die klub aan die einde van verlede jaar toe te staan, sou “hersien” het.
Bennie van Rooi, die BRU se president, het vandeesweek by navraag aan Paarl Post bevestig dat die BRU op die vergadering by sy 2024-besluit volstaan het.
“La Motte is ‘n volwaardige lid van die BRU en neem deel aan die unie se kompetisies.Die klub is aanvaar as lid by die vergadering wat op 31 Mei plaasgevind het,” het Van Rooi gesê.
Paarl Post het verlede maand berig die hooggeregs- hof in Kaapstad het op 6 Mei ‘n dringende aansoek deur La Motte teen die Westelike Provinsie-rugbyunie aangehoor, wat aangevoer het dat die BRU nie die reg gehad het om La Motte se affiliasie-aansoek op 30 November te aanvaar nie aangesien die klub binne die WP se grense val.
Die hof het beslis dat La Motte in die BRU se
Gemeenskapskild-kompetisie ingesluit mag word.
Die BRU het op 30 November verlede jaar op ‘n jaarvergadering La Motte se aansoek om affiliasie aanvaar.
Attie Heyns, die BRU se regsverteenwoordiger, het vroeër daarop gewys dat die besluit van November verlede jaar teen die unie se grondwet indruis.
Wat volgens Heyns nie ten tyde van die besluit in gedagte gehou is nie, is ‘n ooreenkoms tussen die BRU, WPRU en SWD in 2013 – dat ‘n klub nie tussen twee unies mag skuif sonder dat dit albei betrokkenes se goedkeuring dra nie.
Dit was om potensiële probleme rakende die oorvleueling van rugbygrense uit te skakel.
La Motte was vir ‘n jaar (tussen 2007-2008) by die BRU geaffilieer en het in 2009 by die WP-rugbyunie aangesluit.
Ná etlike jare se pleidooie deur die Franschhoekse rugbygemeenskap vir die klub om van die WP weg te breek, het dié proses vroeg verlede jaar begin.
Reginald Pheiffer, die sekretaris van La Motte, het verlede week aan Netwerk24 gesê die klub is verheug dat die kwessie uiteindelik afgehandel is.
“Ons primêre doelwit was altyd om rugby te speel by ‘n unie waaraan ons behoort,” het hy gesê.
“Om die oorweldigende steun van die Boland se klubs te kry, is vir ons ‘n riem onder die hart. Ons voel nou regtig dat ons ‘n tuiste het.”
Volgens Pheiffer moes die klub sy eie regskoste betaal.
“Ons het ‘n afbetalings- ooreenkoms en moet geldinsamelings en gesellighede reël.
“Ons het na mense uitgereik vir finansiële ondersteuning, maar niemand het vertroue gehad in La Motte se vermoë om so ‘n saak te wen nie. Dit was Dawid teen Goliat,” het hy gesê.