Boland Rugby se President, Ivan Pekeur, is vanoggend oorlede.


Die President van Boland Rugby, Ivan Pekeur, is vroeg
vanoggend oorlede.

Pekeur was sedert 2014 in die leiersposisie by Boland Rugby.
Hy het gister (26 Desember) begin olik voel met naarheid en is in Worcester Mediclinic
opgeneem. Sy toestand het egter deurnag vererger en hy is vroeg vanoggend (27
Desember) in die hospitaal oorlede.

Boland Rugby woordvoerder, Mark Ward, het gesê dat die
oorsaak van Pekeur se dood nog nie bekend is nie.

Pekeur was ‘n vooraanstaande figuur as rugby skeidsregter. Hy
was later baie betrokke met skeidsregter ontwikkeling in die Boalnd. Hy was ook die
bestuurder van Boland klubrugby en het op ‘n stadium meer as 250 klubs en skole
rugbyspanne onder sy sambreel gehad.

Na die tragiese dood van ‘n klubrugby speler, Riaan Loots,
wie tydens ‘n Boland klubrugbywedstryd weens vuilspel dood is, het Pekeur hierna hard
gewerk om Boland klubrugby se name tot ere te herstel.

Hy het in 2014 die leisels by Boland Rugby oorgeneem by
Francois Davids en die pos as President tot sy afsterwe beklee.

Onder sy leierskap het hy reuse stappe geneem ten opsigte van herstruktueering wat Boland Rugby van krag tot krag geneem het en wat ook groot finansiele voordeel vir die klub beteken het.

Ward het gesê dat Pekeur se dood as ‘n baie groot skok kom
vir die Boland Rugby bestuur, span en ondersteuners, asook die hele Boland
rugby gemeenskap.

“Hy het diep spore getrap by Boland in verskeie leiersposisies.
Hy was ‘n ware Bolander wat geleef het vir rugby. Hy gaan erg gemis word.”

Pekeur word oorleef deur sy vrou van byna 40 jaar, Dinah, en
vier kinders.

You need to be Logged In to leave a comment.