Die Boland-rugbyunie het on­langs sy bekeruitdeling by die Kronenberg-landgoed gehou.

Die bekende Supersport-krie­ketaanbieder en spanbe­stuurder van die Paarl Rocks-krieket­span, Jeremy Fredericks, was die seremonie­meester en die gasspreker was dr. Helena von Schlicht, burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmu­nisipaliteit.

Tapiwa Tsomondo, flank van die Boland-Kavaliers, is die spe­ler van die jaar terwyl Marlyn Williams (slot) en Valentino Wellman (vleuel) onderskei­delik die voorspeler en agter­spe­ler van die jaar is. Taine-Randall Booysen, wat vanjaar nog die Boland se o.20-span gelei het, het die deurbraak­speler van die jaar-prys gekry.

Volgens Randall Modiba, hoofafrigter van die Kavaliers, was Tsomondo vanjaar op sy beste. “Tapps het vanjaar kon­stant goeie vertonings gelewer en Marlyn het Clemen Lewis, Ludio Williams en Zandré Jor­daan uitgestof vir die prys voor­langs. Valentino was in ’n tweestryd gewikkel met Elgar Watts vir agterspeler van die jaar en het ook deurgaans goed vir ons gespeel.

Iemand soos Taine-Randall moes ons nood­gedwonge gebruik ná ’n rits beserings ons getref het, maar hy het gewys dat hy op die senior vlak kan speel,” het Modiba gesê.

Onder die vroue het Elmary Fienies die voorspeler van die jaar asook die spelers se speler van die jaar gewen terwyl Onako Jita die speler van die jaar is.

Die Boland-Kavaliers is reeds besig met sy voorseisoen se voorbereiding.

You need to be Logged In to leave a comment.