Van links is Wendy Adams (adjunkhoof van registrasiedienste), Brandon van Wyk (verteenwoordigende studenteraad), Wickus van der Westhuisen (departementshoof van dienstestudies en vervoer), Liza Hamman (waarnemende kampusbestuurder van die Paarl-kampus), Zeta Adams (verteenwoordigende studenteraad), Charles Goodwin (hoof van Boland Kollege), Jomo Jacob (plaaslike direkteur van tegniese en beroepsgerigte onderwys en opleidingsinstansies), Chaleen October (waarnemende departementshoof van kantoorbestuurswetenskappe), en Danny Plaatjies (adjunkhoof van korporatiewe dienste).


Boland Kollege se Paarl-kampus het ’n mylpaal bereik met die bekendstelling van sy nuwe voedingskema, wat studente van broodnodige ontbyt en middagete sal voorsien.

Die inspirasie vir die voedingskema kan saamgevat word in die kragtige woorde van Martin Luther King jr., wat gesê het: “Ek het die vermetelheid om te glo dat mense oral drie maaltye per dag vir hul liggame, opvoeding en kultuur kan eet – vir die verstand, en waardigheid, gelykheid en vryheid vir hul geeste.”

Die meerderheid van Boland Kollege se studente kom uit minderbevoorregte agtergronde en sukkel dikwels om brood op die tafel te sit. Navorsing het bevind talle gesinne maak op NSFAS-toelaes staat om hulle te onderhou.

Dus het die kollege eerstehands die uitdagings aanskou wat studente in die gesig staar, waar sommige studente klasloop sonder om ontbyt te eet.

Hoewel hartverskeurend, het hierdie stryd aanleiding tot beplanning gegee. Boland Kollege se Paarl-kampus het ’n oplossing vir die studente se honger gevind en die voedingskema het tot stand gekom.

Die voedingskema bied ’n omvattende oplossing en verskaf daagliks ontbyt en middagete aan 150 studente (altesaam 300 maaltye per dag).

Ontbyt word vanaf 07:30 tot 11:30 bedien, en middagete van 12:00 tot 14:00.

Dit maak voorsiening vir die verskillende klastye.

Die voedingskema vind plaas by die Drakensteinkampus (in ’n ander deel van die Paarl) en om studente te ondersteun wat tussen die Paarl- en Drakensteinkampus moet pendel, laat die skema hulle toe om houers vir wegneemetes te bring.

Die Paarl-kampus is toegerus met ’n mikrogolfoond vir studente om hul maaltye te verhit. Die span monitor studentebywoning en voedselbeskikbaarheid noukeurig, en pas dit aan soos nodig om te verseker geen student ly honger nie.

Die sukses van die skema is grootliks te danke aan die Peninsula School Feeding Association (PSFA) en die Maatskaplike Indiensnemingsfonds (SEF), vennootskappe wat die kollege se verbintenis tot studentewelstand deel. Die SEF bestuur die dag-tot-dag bedrywighede, insluitend voedselvoorbereiding, kook, en skoonmaak. ’n Onverwagte, maar bemoedigende uitkoms is die opvoedkundige geleenthede wat die skema bied.

Studente van Boland Kollege, as deel van hul lewensoriëntering-kurrikulum, is ook betrokke by die skema waar hulle hul gemeenskapsdiens-ure kan voltooi.

You need to be Logged In to leave a comment.