’n Goeie vertoonvenster vir klubrugby was Saterdag (25 November) in ’n Sanlam-Boland-Top-12-halfeindstryd op die spyskaart. Meer as 7 000 ondersteuners het die skouspel op die Boland-stadion in Wellington aanskou.
Die eerste halfeindstryd is gekenmerk met uithalerspel deur Safcol van Grabouw, wat die span van Darling met 68-38 afgeransel het. Die manne van Grabouw in die Overberg beleef ’n goeie seisoen en het die rugbygeesdriftiges met opwindende spel vermaak.
Safcol het agt drieë in ’n baie aanskoulike wedstryd gedruk en was rustyd reeds met 34-25 voor. Die span van Safcol het daarop gefokus om punte aan te teken wanneer hy hom in die teenstanders se kwartgebied bevind het.
In die ander halfeindstryd het Robertson Town die span van Wesbank naelskraaps met 32-29 getroef. Die wedstryd kon nog tot op die einde van die tagtigste minuut nog enige kant toe swaai, maar die span van die Breedevallei het aan sy voorsprong vasgeklou. Ondersteuners van al twee spanne het letterlik naels gekou in die tweede Sanlam-Boland-Top-12-halfeindstryd in Wellington. Robertson was van die begin van die wedstryd af in beheer. Wesbank se terugvegpoging was tevergeefs.
Saterdag (2 Desember) word ’n titaniese stryd tussen die twee onoorwonne spanne, die finaliste Safcol en Robertson Town, verwag. Albei spanne speel in hul eerste Sanlam-Boland-Top-12-eindstryd. Die hoofwedstryd skop af om 16:00 by Boland-stadion in Wellington. Die wedstryd word ook lewendig uitgesaai op SuperSport kanaal 216.
HALFEINDRONDe-uitslae van die Grootuitdaagbekerkompetisie (Top-12):
- Jasherie Karriem, Fredginald Africa, Lorenzo Baardman, Givan Adams. Doelskoppe: Gurshwin Africa (3). Strafdoele: Gurshwin Africa (2). WESBANK: Drieë: Keanan Solomons, Branden Appolis, Gavern Skippers, Faiez Moosa. Strafdoel: Dillon Strydom.
- Drieë: Cameron Julies, Jason Beukes, Benjamin Dwayi, Waden Nel, Heinrich Meintjies, Fazley Vermeulen, Choslan November, Lehnrho Julies. Doelskoppe: Julies (8). Strafdoele: Julies (3). Skepdoel: Julies. DARLING: Drieë: John Samuels (2), Ryle Daniels, Henwill Cleophas, JP Abrahams, Chad Lakay. Doelskoppe: Earl Lewis (4).


