Met alle oë wat hierdie naweek op Suid-Afrika sal wees om sy plek in die halfeindronde van vanjaar se Rugbywêreldbekertoernooi te verseker, sê die Bolanders hulle het volle vertroue in die Springbokke en is veral trots op wat ses van die Boland se eie spelers tot dusver in dié toernooi bereik het.
Suid-Afrika en Frankryk sal Sondagaand om 21:00 veg vir ’n plek in die halfeindronde.
Canan Moodie, Grant Williams, Kurt-Lee Arendse, Frans Malherbe, Handré Pollard en Vincent Koch is vanjaar lid van die span wat Suid-Afrika by die toernooi in Frankryk verteenwoordig.
Die spelers het almal hul rugbyloopbane by Bolandse skole begin.
Pollard, Malhebe en Koch is gesoute professionele rugbyspelers wat al ’n paar groot kragmetings agter die rug het.
Vir Moodie, Williams en Arendse is dit egter hul eerste wêreldbekertoernooi en dié jong spelers het tot dusver nie geskroom om weer eens te bewys dat die Boland bekend is vir legendariese rugbyspelers wat hy oplewer nie.
Paarl Post het vandeesweek uitgereik na van die spelers se familielede om te hoor hoe die manne die toernooi tot nou ervaar.
Williams se ma, June, sê sy gesels omtrent elke aand telefonies met haar seun.
“Dit gaan baie goed met hom. Dit klink asof hy regtig die ervaring aan die ander kant geniet. Soms sal hy so bietjie af voel, as hy nie ’n lekker wedstryd gehad nie.
“Ek is darem gerus met die wete dat hy baie ondersteuning in sy eie span het. Hy ken baie van die spelers nou al vir jare. Ek glo ons kinders gaan ons trots maak,” het sy gesê.
Williams is in die Paarl gebore en het sy hoërskoolloopbaan aan Paarl Gimnasium voltooi.
Hy is in 2021 by die Springbok-span ingesluit en het in Julie vanjaar sy internasionale buiging gemaak toe die Springbokke teen Wallis kragte gemeet het.
Chantel Moodie, Canan se ma, sê hoewel haar seun nie iemand is wat baie praat nie, kan sy sien die toernooi is vir hom ’n verrykende ervaring.
“Canan is mos maar ’n baie beskeie en nederige kind. Jy kry nie veel uit hom nie. Ek sê gereeld vir hom hoe groot sy naam hier buite is en hoe baie mense na hom opkyk, dan sal hy net altyd glimlag. Ek kan egter sien hy is tans waar hy nog altyd wou wees – hy leef sy passie vir rugby op die hoogste platform uit.”
Sy sê die span is gereeld in haar gebede.
“Ek dra hulle daagliks in my gebede op. Daarby saam is dit ook vir my belangrik om ’n positiewe gesindheid te handhaaf. Ek probeer altyd positief bly, al word daar baie dinge gesê oor spankeuses en die skeidsregters.
“As ons positief bly, sal ons positiewe resultate kry.”
Moodie was maar 17 jaar oud toe die Springbokke die wêreldbekertoernooi in 2019 gewen het. Hy is ook in die Paarl gebore en het sy hoërskoolloopbaan by die Paarl Boys High begin en later aan die Hoërskool Boland Landbou voltooi. Moodie het in Augustus verlede jaar sy internasionale buiging vir die Springbokke gemaak.
“Ek kyk nooit enige van die wedstryde saam met ander mense nie. Elke skrum voer ek saam met hom uit. Ek is so trots elke keer wanneer hy op die veld uitdraf omdat ek weet dis van vyfjarige ouderdom af reeds sy droom om vir die Springbokke te speel,” het sy laggend gesê.
“Hy was maar vyf jaar oud toe die Springbokke die eerste keer die wêreldbekertoernooi gewen het. Ek sal dit nooit vergeet nie. Hy en sy broer, Divan, het die eindstryd gekyk en sy woorde was ‘Ek gaan ook daar speel’. Dis nou sy tweede wêreldbekertoernooi.”
Sy sê dis belangrik vir ouers om hul kinders se drome ernstige op te neem en hulle daarin te ondersteun.
Volgens Brand-Koch is Vincent se vrou en seuntjie tans by hom in Frankryk
“Ons gaan definitief Sondag se wedstryd kyk. Al speel hy nie, is ons steeds trotse Springbokondersteuners. Hy bel elke dag via video-oproep en daarvoor is ons so dankbaar.”
Koch was by die Hugenote Hoërskool in Wellington en het tussen 2006 en 2008 vir Boland Kavaliers uitgedraf. Hy het in 2015 die eerste keer vir Suid-Afrika in ’n naelbyt-stryd teen die All Blacks in Johannesburg uitgedraf.
Malherbe se ma, Linda, het by navraag gesê die Bokke moet nie deur die Franse skare geïntimideer voel nie. Malherbe is ook in die Paarl gebore en was op Paarl Boys High. Dit is sy derde wêreldbeker-toernooi nadat hy in 2013 by die Springbokspan ingesluit is.
Paarl Post kon nie Pollard en Arendse se familie vir kommentaar bereik nie.
Pollard was in Paarl Gimnasium.