Kaapstad se strate was Vrydag (3 November) tydens die Bokke se Rugbywêreldbeker-sege-toer met duisende Springbok-ondersteuners gevul.Foto: Rasaad Adams


Daar was ’n onbeskryflike atmosfeer soos geen ander nie toe duisende Springbok-ondersteuners van so ver as Mosselbaai, Grabouw en Botrivier Vrydag (3 November) na Kaapstad opgeruk het vir die Bokke se oorwinningstoer deur die Moederstad.

Die toer het in Gauteng begin waar die kampioene deur pres. Cyril Ramaphosa by die Uniegebou ontvang is.

Vrydag kon Wes-Kapenaars (as jy gelukkig was) ’n foto saam met hul gunstelingspelers neem toe die Bokke deur die middestad en verskeie gebiede op die Kaapse Vlakte soos Bonteheuwel, Langa en Valhalla Park getoer het.

Die hoofverrigtinge het voor die stadsaal plaasgevind waar duisende ondersteuners op die parade byeengekom het om die Springbokke te ontvang.

Die skare is vermaak deur plaaslike kunstenaars en is ook toegespreek deur Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se uitvoerende burgemeester.

Siya Kolisi, die Bokke se kaptein, het die skare met “Awe masekinders” gegroet, en ondersteuners bedank vir hul byna tasbare gees tydens die Rugbywêreldbekerstryd.

“My rugbyloopbaan het hier begin. Die ondersteuning wat rugby hier in die Wes-Kaap ontvang, is werklik soos geen ander nie. Ons is dankbaar vir al jul ondersteuning en dat julle as ’n eenheid agter ons staan – dit motiveer ook eenheid by ons as ’n span.

“Ons wil julle aanmoedig om aan te hou om aan ons te glo en voortaan so pragtig te lyk soos wat jul vandag doen. Dit was ons boodskap van die begin af. Dit gaan nie meer oor ons as ’n span nie. Ons doen dit vir hierdie nasie. Ons hoop dus dat ons julle trots gemaak het.”

Hill-Lewis het op sy beurt gesê hy hoop die Bokke voel die liefde wat Kapenaars tot dusver gewys het.

“Julle het dalk video’s ontvang van die gees hier in die Kaap tydens die Rugbywêreldbeker daar in Frankryk, of dit dalk op die nuus gesien. Maar nou is julle hier om eerstehands te ervaar hoe lief hierdie mense vir julle is. Dankie dat julle ons inspireer en gewys het dat ons land op alle gebiede kan floreer.

“Julle het dit nie net gedoen deur die meeste punte aan te teken nie, maar deur met waardes, integriteit, respek en eerbaarheid die rugbyveld te betree. Dankie, uit die diepte van ons hart, vir alles wat julle vir ons doen en beteken.”

Intussen het Paarliete op van Paarl Post se regstreekse Facebook-inskrywings uit Kaapstad versoek dat die Bokke ook ’n draai in die Boland moet maak aangesien die streek minstens ses spelers in die span het.

Canan Moodie, die jongste Springbok en ’n boorling van die Paarl, het tydens Vrydag se verrigtinge in ’n media- onderhoud gesê hoewel die hele span nie in die Paarl gaan draai nie, is hy en van die ander Paarliete in die span opgewonde om weer huiswaarts te keer.

“Hopelik, binne die volgende week, gaan ons julle in die Paarl sien. Dan kan ons vir julle almal dankie sê vir die ongelooflike ondersteuning wat julle vir my, Kurt-Lee en Grant gegee het.”

You need to be Logged In to leave a comment.