Handré Fourie (17).Foto: Argief


Die 17-jarige Handré Fourie van Wellington, wat behandeling in die Paarlse staatshospitaal ontvang het nadat hy in ’n ernstige motorfietsongeluk was, se ma, Lydia Fourie, sê hy sterk goed aan.

Die jong vegter lê tans snoesig opgekrul in sy bed by die huis nadat hy die afgelope Saterdag (7 Oktober) ontslaan is.

Handré, ’n gr.11-leerder aan die Hoër Jongenskool Paarl, was op 23 September in ’n ongeluk by die Philadelphia Funduro-pretrit toe op sy motorfiets gejaag en hom met ’n kontoerwal misgis het, waarna hy teen ’n berghelling afgekom en sowat 10 m deur die lug geslinger is.

Hy het op sy hande te lande gekom en al twee polse vergruis.

Volgens Fourie het haar seun ook akute kompartement-sindroom tydens die ongeluk ontwikkel.

Paarl Post het in verlede week Donderdag (5 Oktober) se koerant berig dat dié jong vegter ’n veloorplanting gehad het om sy arms wat oopgesny was, te bedek.

Volgens Fourie was die veloorplanting ’n sukses. Dit sal tyd verg vir die vel om toe te groei en sy voorarms ten volle te bedek.

Die koerant het ook berig dat die wond gereeld van binne deur middel van “pypies” skoongemaak moet word om die gevaar van septisemie te verminder. Volgens Handré se ma is die “pypies” intussen verwyder en moet Handré een keer per week die staatshospitaal besoek waar hulle die verbande en gips sal vervang asook die wonde van buite skoonmaak. Septisemie bly egter steeds ’n gevaar, sê sy.

“Sy [Handré se] gemoed is baie beter, veral omdat hy by die huis is waar sy vriende vir hom kan kom kuier,” het Lydia verduidelik.

Volgens haar is die rehabilitasietydperk nog lank, en kan tot 12 maande duur nadat al sy operasies afgehandel is.

Wat presies dié operasies behels en wanneer dit gaan geskied, moet die dokters nog vasstel. Lydia sê volgens sy dokters sal Handré nie hierdie jaar terug skool toe kan gaan nie.

You need to be Logged In to leave a comment.