Die span van Boishaai het die senior afdeling gewen: William Graham, Robert Harris, Rynard de Beer.

Met indrukwekkende redenasies, spanwerk en ‘n liefde vir Afrikaans het die Hoër Jongenskool Paarl as die wenner van die seniors en Hoërskool Jan van Riebeeck as die wenner van die juniors uit vanjaar se debatstryd getree.

Die jaarlikse debatstoernooi, aangebied deur die Afrikaanse Taalmuseum en-monument in samewerking met die Historium Trust en die Afrikaanse Onderwysnetwerk, het verlede Donderdag (16 Oktober) in die Paarl plaasgevind, met Klein Nederburg Sekondêre Skool as gasheer.

Ses junior spanne en sewe senior spanne van Klein Nederburg Sekondêre Skool, die Hoërskool Jan van Riebeeck, Hoër Jongenskool Paarl, die Hoërskool Labori, Paarl Gimnasium, die Hoër Meisieskool La Rochelle asook Paulus Joubert Sekondêre Skool het dit oor drie rondes uitgespook.

Die senior spanne van Boishaai en die Hoërskool Labori neem aan die eindronde deel.

Die eindronde van die juniors (gr. 8 en 9) is deur die spanne van Paarl Gimnasium en die Hoërskool Jan van Riebeeck beslis, waarna Jan van Riebeeck die oorwinning behaal het.

Hulle het gedebatteer oor kunsmatige intelligensie (KI) en die vermoë daarvan om tale te laat groei – of nie.

In die eindronde van die seniors (gr.10 tot 12) het die Hoër Jongenskool Paarl teen die Hoërskool Labori te staan gekom. As die verdedigende kampioen van 2024 moes die Hoërskool Labori vanjaar die knie vir die Hoër Jongenskool Paarl buig.

Hulle het gedebatteer oor #Afrikaans100Amptelik en die rol van amptelike status om gelykheid tussen tale te bewerkstellig, al dan nie.

Beide die junior en senior span van die Hoër Meisieskool La Rochelle het met die derde plek weggestap.

Die debatstoernooi het nie net talentvolle jong debatteerders in die kollig geplaas nie, maar ook die belangrikheid van taal, woordvaardigheid, denke en samewerking beklemtoon.

Volgens Michael Jonas, die ATM-direkteur, is hierdie soort toernooi ook belangrik sodat ruimte vir debat in Afrikaans geskep kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.