Derek Swart tree aan die einde vanjaar af as skoolhoof van Hoër Jongenskool Paarl.Foto:


Derek Swart, die gerespek­teerde hoof van die Hoër Jongenskool Paarl, tree ná byna 40 jaar in die onderwys aan die einde van vanjaar af. Hy laat ’n indruk­­wekkende nalaten­skap, met 17 jaar as leier van een van Suid-Afrika se topskole.

Sy tyd by Boishaai is gekenmerk deur akademiese uitnemendheid en holistiese leerderontwikkeling. Hierdie bydraes is onlangs erken met die Kader Asmal-lewenslange prestasie-toekenning aan hom.

Swart se leierskap het Boishaai oor die jare tot nuwe hoogtes geneem deur ’n inklusiewe, ondersteunende leeromgewing te skep. Onder sy leiding het die skool konsekwent uitsonderlike akademiese prestasies behaal en sy status as een van die land se voorste skole behou.

Hy het ook vernuwende onderrigmetodes omhels, met ’n fokus op tegnologie om leerders voor te berei vir die uitdagings van die moderne wêreld.

Benewens die akademie het Swart groot klem gelê op karakterbou, gemeenskapsdiens en die kultuur van die jong manne in blou, wat gesien kan word in die talle toekennings wat die skool deur die jare op alle vlakke ontvang het.

Swart se vermoë om sterk bande met ouers, plaaslike ondernemings en organisasies te bou, het ’n ondersteunende netwerk vir die skool geskep.

Swart se mentorskap het talle onderwysers geïnspireer en hul potensiaal ontsluit, wat sy nalatenskap as ’n vormende leier verder versterk het.

Hoewel sy vertrek ’n groot leemte laat, sal sy invloed voortleef in die geslagte opvoeders en studente wat hy inspireer het.

Oor die onlangse toekenning wat hy ontvang het, sê Swart dat hierdie erkenning van die nasionale onderwysdepartement vir hom ’n baie groot eer is. Dit het hom laat terugkyk op sy byna 40 jaar in die onderwys.

“Dit was ’n nederige ervaring om te sien hoe my bydraes raakgesien word,” sê hy.

Swart se tyd by die Hoër Jongenskool Paarl was gevul met uitdagings, maar ook ongelooflike groei.

Hy beskryf sy 17 jaar aan die stuur van die skool as “een ongelooflike reis” wat hom baie wysheid en vaardighede geleer het.

“Ek is nou ’n wyser man as toe ek hier aangekom het,” erken hy.

As hoof van een van die land se voorste skole moes hy nie net na die leerders omsien nie, maar ook aandag gee aan ander komponente, soos die personeel, ouers, borge en oudleerders wat ’n sterk deel van die Boishaai-familie vorm.

Vir Swart is die kern van sy rol die bestuur van die skool, terwyl die onderwysers verantwoordelik is vir die handhawing van die skool se kultuur.

“Die leerders bly die voorkeur,” sê hy, maar voeg by dat almal in die Boishaai-familie hul plek moet ken en verstaan hoe belangrik hul rol is.

Hy beklemtoon verder die belangrikheid van die skool se tradisies – veral goeie gedrag, leerlingskap en sportmanskap.

“Jy moet by hierdie tradisies inval en dit gebruik om die pad vorentoe te bou,” sê Swart.

Hy het groot waarde geplaas op respek en vertel van hoe oud-Boishaaiers steeds onthou word vir hul maniere en integriteit.

Op ’n vraag oor wat die hoogtepunte in sy termyn by Boishaai was, sê Swart eenvoudig alles was ’n hoogtepunt.

Om ’n Boishaai-koorvertoning te ervaar, sowel as die spanning en opwinding van interskole-wedstryde, was beide ewe wonderlike ervarings.

Swart onthou hoe hy een keer gesien het hoe koshuisseuns, op pad terug na die koshuis, ’n vrou gesien het wat in dromme krap. Elke seun het haar vriendelik gegroet.

“Dit is presies waaroor Boishaai gaan – nie net oor akademie en sport nie, maar oor respek en empatie.”

Ongelukkig was daar ook laagtepunte.

Swart vertel van die hartverskeurende jaar waarin 16 seuns en jong mans wat verbonde was aan die Boishaai-familie, insluitend sy eie seun, oorlede is.

“Dit was ’n baie moeilike jaar, maar die Boishaai-familie het saamgestaan en deurgedruk,” sê hy.

Dit het hom herinner aan die lewensles dat, selfs wanneer jy moed verloor, jy moet opstaan en aangaan.

Swart se wens vir die skool is dat hulle voortbou op die fondament wat hy help lê het. Hy hoop dat die skool sal voortgaan om nie net akademiese uitmuntendheid na te streef nie, maar ook om karakter te bou.

“Sukses is nie net punte op ’n bord nie – dit is die ontwikkeling van leerders tot hul volle potensiaal,” sê hy.

Wat sy aftrede betref, beplan Swart om ’n bietjie te ontspan en tyd met sy musiek deur te bring.

Hy sal wel steeds na aftrede by Boishaai betrokke wees, as afrigter van die Eagles en die Falcons rugbyspanne.

Swart se nalatenskap by die Hoër Jongenskool Paarl is onmiskenbaar, en sy passie vir onderwys en karakteront­wikkeling sal nog vir baie jare by die skool weerklink.

You need to be Logged In to leave a comment.