Die Hoër Jongenskool Paarl in Auret-straat. Foto: Hoër Jongenskool Paarl/ webtuiste


Die afgelope naweek se sportbyeen­koms in die Paarl tussen die Hoër Seunskool Rondebosch van Kaapstad en die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) het op ’n suur noot geëindig toe Paarlse seuns na bewering rassistiese uitlatings teenoor twee swart leerders van Rondebosch gemaak het.

In ’n interne verklaring wat aan ouers van die Hoër Seunskool Rondebosch gestuur is en wat Paarl Post onder oë gehad het, beweer Rondebosch se skoolhoof, Shaun Simpson, dat leerders van Boishaai in twee afsonderlike wedstryde rassisties teenoor twee swart leerders van Rondebosch opgetree het.

Volgens Simpson se verklaring het die eerste voorval plaasgevind gedurende Vrydagaand (24 Mei) se eerste-hokkiespan-wedstryd waar ’n Boishaai-leerder ’n swart Rondebosch-leerder glo ’n “aap” genoem het toe die Kaapse leerder ’n geelkaart ontvang het.

“Vrydagaand, in die tweede chukka van die eerste-hokkiespan se wedstryd, het een van ons [Rondebosch-] spelers ’n geelkaart vir ’n oortreding ontvang. Hoewel ek [Simspon] van ’n redelike afstand af gekyk het, het dit geblyk toe die speler omdraai om weg te loop [van die veld], ’n Paarl Boy’s High-speler hom gestamp en ’n paar woorde gesê het. Hierdie woorde was duidelik treffend genoeg vir ons [Rondebosch se] speler om om te draai en na die Boishaai-speler te gaan, wat hom uitgedaag het, met verskeie ander spelers wat ook toe betrokke geraak het,” volgens Simpson se verklaring.

“Hierdie soort gedrag is hoogs ongewoon in ’n hokkiewedstryd,” het Simpson geskryf.

Nadat personeel van albei skole die onderonsie gestop het, het Rondebosch se eerstespan-hokkiekaptein sy skoolhoof genader om die voorval te bespreek.

Volgens hóm is die swart speler ’n aap genoem en toe hy van die veld afgeloop het weens die geelkaart teen hom, en het Boishaai-ondersteuners “aapgeluide” gemaak.

Die hokkiewedstryd is toe afgelas en aangeteken as ’n doellose gelykopuitslag.

Ons [Rondebosch] het die Saterdag-wedstryde benader met die siening dat wat Vrydagaand in die [hokkie] wedstryd gebeur het, ’n geïsoleerde voorval was.
Shaun Simpson

“Ons [Rondebosch] het die Saterdag-wedstryde benader met die siening dat wat Vrydagaand in die [hokkie] wedstryd gebeur het, ’n geïsoleerde voorval was,” het Sampson in die verklaring gesê.

Volgens hom het die beweerde rassistiese gedrag hom egter herhaal gedurende Saterdag se rugbywedstryde toe “aapgeluide” tydens die tweederugbyspan se wedstryd weer deur Boishaai-ondersteuners gemaak is.

Tydens dié wedstryd, wat op SuperSport uitgesaai is, kan gesien word hoe ’n onderonsie tussen die twee spanne ontstaan nadat Rondebosch ’n drie gedruk het. Ná die onderonsie is twee spelers van elke skoolspan afgestuur, wat ’n swart speler van Rondebosch ingesluit het.

Terwyl hy van die veld af geloop het, is “aapgeluide” weer deur Boishaai-ondersteuners gemaak, waarna die speler teruggekyk het na die skeidsregter en met handgebare verduidelik het dat iets vir hom gesê is.

Volgens Sampson se verklaring is ’n stemboodskap deur ’n “swart leerder van die Hoër Jongenskool Paarl” aan hom gestuur wat bevestig het wat gebeur het. “Weens die balans van waarskynlikhede, kan ek [Sampson] net aflei dat wat gerapporteer is (sic) presies is wat gebeur het.”

Volgens die skoolhoof sal die Hoër Seunskool Rondebosch sy sportverhoudinge met Boishooi dus “ernstig moet heroorweeg”.

Sodra ons [die Hoër Seunskool Rondebosch] volledige verslae bekom het oor wat gebeur het, sal die skool die Wes-Kaapse hokkie- en rugby-unie nader vir ’n ondersoek en ’n sterk stelling oor rassisme in sport, beide op die speelveld en van die ondersteuners,” het Sampson gesê.

Volgens die Hoër Jongenskool Paarl, ondersoek die seunskool tans die bewerings van die Hoër Seunskool Rondebosch, en sal die bevindings gedeel word sodra die ondersoek afgehandel is.

“Rassisme het nog nooit enige plek in die Hoër Jongenskool Paarl gehad nie,” volg ’n persverklaring wat die skool uitgereik het.

“Oor sekere bewerings wat gemaak is oor gebeure wat vermoedelik tydens die afgelope naweek se sport teen die Hoër Seunskool Rondebosch plaasgevind het, is ’n ondersoek onmiddellik van stapel gestuur,” lei die verklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.