Peet Goosen, o.16B-speler van die Hoër Landbouskool Boland, is byna onherkenbaar weens die modderige veld tydens hul wedstryd Saterdag op Die Plaas teen Rondebosch. Foto: w


In ’n aksiebelaaide naweek van skolerugby het Paarl Gimnasium en die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) indrukwekkende oorwinnings oor hul teenstanders behaal.

Paarl Gimnasium het ’n oortuigende oorwinning van 45-20 oor Wynberg Boys’ High behaal, danksy ’n uitstekende vertoning deur die slot Quintin Potgieter wat twee drieë gedruk het.

Die Gimmies het altesaam sewe drieë aangeteken, met hul rolmale wat as ’n meedoënlose wapen gedien het en die senterpaar, Kobus Blanckenberg en Markus Muller, wat ook uitgeblink het.

Aan die ander kant het Boishaai ’n verwoestende vertoning teen die South African College High School (Sacs) gelewer en die wedstryd met 20-12 gewen nadat hulle rustyd ’n voorsprong van 17-0 gehad het.

Die Paarlse span se verdediging was onwrikbaar, en sy skrumwerk vernietigend. Gershom Pieters (slot) en Keagan Smith (skrumskakel) het vir Boishaai gedruk, terwyl Viaan Mentoor (losskakel) die res van die punte met sy skopskoen bygedra het.

Na aanleiding van hierdie vertonings deur die twee skolerugby-reuse wat in net meer as ’n week kragte gaan meet in die jaarlikse Paarl Interskole, gaan vanjaar se stryd op Faurestraat weer eens ’n klipharde kragmeting wees.

Boishaai speel die komende naweek sy laaste wedstryd voor die Interskole teen Boland Landbouskool en Gim teen die Hoërskool Durbanville.

In ’n ander wedstryd het die Hoër Landbouskool Boland ’n naelskraapse oorwinning van 27-22 oor Rondebosch Boys’ High School behaal. Danté Christians (linkervleuel) het in die doodsnikke van die wedstryd ’n beslissende drie gedruk vir dié sege.

Die wedstryd het in ’n modderbad in die Agter-Paarl plaasgevind, waar Boland Landbou tot die einde toe verbete geveg het.

Hugenote Hoërskool het teen Porterville in Wellington gespeel en hulle wen 23-20.

Die naweek se wedstryde toon die hoë vlak van mededinging en vaardigheid in Wes-Kaapse skolerugby en voorspel opwindende rugby in die streek.

Op die SA-skoleranglys is die Hoërskool Gimnasium tans derde geplaas, Boishaai sesde en Boland Landbouskool negende.

You need to be Logged In to leave a comment.