’n Familiekind by die motor voor die diefstal.


’n Paarlse vrou krap steeds kop oor haar motor wat 10 jaar gelede uit ’n parkeerterrein in Van der Lingenstraat gesteel is – veral nadat sy ’n paar jaar daarna ’n verkeersboete ontvang het.

Die 63-jarige vrou, wat nie geïdentifiseer wil word nie, vertel sy en ’n vriendin het die betrokke dag op 8 Februarie 2014 inkopies gedoen. Hulle is toe na ’n kruidenierswinkel op die hoek van Bergrivier Boulevard en Van der Lingenstraat, waar hulle net vinnig sou ingaan.

Met hul terugkoms was die vrou se Ford Laser, ’n 1992-model, skoonveld. Die vrou sê sy het toe die parkeerwag genader.

“Hy het toe vir my gesê ’n man en ’n vrou met sakke vol kruideniers­ware het by die kar kom staan. Hulle het toe gesê dat hulle die mense van die kar ken en hulle wag vir ons. Die parkeerwag het toe iemand anders gaan help en toe hy weer sien, toe ry die man en die vrou met my kar weg.

“Toe ek uiteindelik by die plek kom waar die kar gestaan het, was ek kalm, maar nogal ’n bietjie embarrassed. My vriendin se groceries was in die kar en ook my kleinseun se Nike Jordan- tekkies wat ek dieselfde dag by die winkel afgehaal het. Omdat ek nie lugtyd gehad het nie, het ek by ’n nabye winkel gaan aanklop vir hulp en my seun gebel.”

Die vrou, wat in Paarl-Oos woon, vertel dat sy die Paarl-polisie in kennis gestel het, maar toe hulle nie opdaag nie, het sy maar self plan gemaak om by die polisiekantoor uit te kom om die saak aan te meld. Die saak is geregistreer en die motor is in dieselfde jaar wat dit gesteel is, gederegistreer.

Tot die vrou se skok het sy in 2021 ’n verkeersboete ontvang, en in die brief wat aandring dat sy R500 betaal, staan dit duidelik dat die motor steeds met dieselfde registrasienommer in Kaapstad rondry. Die persoon wat die motor bestuur, het glo die voertuig deels op ’n sypaadjie geparkeer. ’n Verdere kopkrap vir die vrou is dat die verkeersbeampte nie die motor as gesteel op die stelsel gekry het nie.

“Ek was toe by die ondersoekbeampte met die boete, en hy het gesê hulle is nog besig met die ondersoek.”

Paarl Post het navraag gedoen oor die spesifieke saak waarop die Paarl-polisie se woordvoerder, kapt. Louise du Plessis, geantwoord het:

“Die voorval is in 2014 by die Paarl-polisie aangemeld en die voertuig is as gesteel gesirkuleer. Wanneer dit as gesteel gesirkuleer word, word dit op alle polisie- en verkeersdepartement­stelsels landwyd geplaas en sal dit so bly totdat die voertuig teruggevind is.

“In die meeste gevalle word die gesteelde voertuie uitmekaargehaal en die onderdele op ander voertuie gebruik. Die klaer in hierdie spesifieke geval moet die aangeleentheid by die verkeersdepartement aanmeld in die gebied waar die boete uitgereik is en op grond van daardie inligting kan die saak heropen word vir ondersoek.”

You need to be Logged In to leave a comment.