Boland Drukpers, die bekende drukkersmaatskappy op Wellington, het die afgelope paar weke ’n interessante U-draai gemaak.
Die maatskappy was besig om sy 50e bestaansjaar te vier toe Boet Theron, die stigter en eienaar van die onderneming, aangekondig het dat die grootste deel van die onderneming en ook die naam, Boland Drukpers, verkoop gaan word.
Boet Theron en sy familie behou wel die smoutwerk-afdeling van Boland Drukpers en sal dit in die toekoms onder die naam Wellington Drukpers bedryf.
Boet Theron het meer as 50 jaar gelede as ’n jong lettersetter van Nasionale Boekdrukkers van Elsiesrivier in die Kaap na Wellington gekom om as setter by ’n klein Wellingtonse drukkermaatskappytjie, Wellington Drukpers, te werk.
“Ek het indertyd teen die koninklike salaris van R34,50 per week gewerk en ná twee jaar besluit om my eie drukkery op Wellington te begin. My Pa het vir my R1 000 geleen en ’n Wellingtonse boer het ’n verdere R2 000 voorgeskiet. Ek het oë toegeknyp en besluit om te spring! Boland Drukpers is begin en ons het van die begin af gesond gegroei,” onthou Boet.
Volgens hom kan hul sukses toegeskryf word aan die feit dat hulle deur al die jare gesorg het dat hulle aan die voorpunt van tegnologiese ontwikkelinge in die drukkersbedryf gebly het.
“Vyftig jaar gelede is alle setwerk op groot lettersetmasjiene in lood gedoen. Vandag word dit blitsvinnig op die rekenaar gedoen. Vyftig jaar gelede het ondernemings soos prokureurskantore hul kwitansieboeke en ander dokumente by drukkersmaatskappye soos Boland Drukpers laat druk. Vandag word dieselfde dokumente deur die ondernemings self in hul eie kantore op rekenaars opgestel en in die kantore op hul eie drukkers gedruk.
“Ons het begin spesialiseer in die druk van etikette wat deur fabrieke op hul produkte geplak word. Boland Drukpers beskik tans oor ’n wye verskeidenheid spesiale toerusting wat letterlik miljoene etikette in kleur kan druk. Dit is hierdie deel van ons onderneming wat ons nou aan ’n ander drukkersmaatskappy verkoop het. Alle ander drukwerk word nog steeds deur ons hanteer.”
Die maatskappy Wellington Drukpers, waar Boet Theron meer as ’n halfeeu gelede op Wellington begin werk het, het later van die toneel verdwyn maar hy het die naam gekoop en deur die jare lewend gehou.
Die nuwe onderneming wat nou gewone drukwerk doen en wat deur sy familie bedryf word, doen dit nou onder die ou naam Wellington Drukpers. Volgens Boet gaan hy nou ’n mindere rol in die onderneming speel en sy skoonseun, Arno van Zyl staan in beheer van Wellington Drukpers. Hy word bygestaan deur Niel van Zyl, Riana van Zyl en Marna van Zyl.