Thomas Bourbon-Leftley (12), en sy pa, William Bourbon-Leftley. Foto: Jana Scheepers


Thomas Bourbon-Leftley van die Paarl volg in sy pa se voetspore en is op die jong ouderdom van 12 ’n bobaas-vrugteboer.

Die Bourbon-Leftley-gesin besit die Môrelig-vrugteplaas in Wemmershoek en boer hoofsaaklik met nektariens en pruime sedert hulle die plaas in 1992 gekoop het.

Volgens Thomas is hy so lank as wat hy kan onthou doenig op die plaas. Hy kon reeds op sewe jaar die plaasbakkie (met ’n handratkas) bestuur.

Thomas se pa, William Bourbon-Leftley, boer saam met sy broer en suster wat ander plase in die distrik besit en waar hulle met onder meer aarbeie boer.

Vandag sluit Thomas se doelwitte in om “alles” op die plaas te kan bestuur, wat insluit die groter masjinerie soos ’n trekker.

Daarvoor is hy tans te kort, sê sy pa egter laggend.

Thomas is ’n gr.7-leerder aan die Paarl Primêre Seunskool, waar hy in die leerderraad dien, asook hokkie, rugby en krieket beoefen.

Al trek sy hart met ’n punt na die plaas, kom sy sport en skooltake egter eerste en boer hy in sy vrye tyd, oor naweke of in vakansietye.

“Op die dae wat ek nie skool toe hoef te gaan nie kan ek die hele dag met die bakkie rondry, take vir my pa doen en boer,” het Thomas in ’n vorige onderhoud met Landbouweekblad gesê.

Vakansietye op die plaas is vir my die lekkerste, selfs lekkerder as om iewers vakansie te gaan hou, want hier kan ek boer.
Thomas Bourbon-Leftley

“Vakansietye op die plaas is vir my die lekkerste, selfs lekkerder as om iewers vakansie te gaan hou, want hier kan ek boer,” het die jong boer gesê.

Thomas het bekendheid verwerf toe hy op Agri Wes-Kaap se jaarlikse kongres op 17 Augustus 2023 by die Grand West Casino in Kaapstad uitgenooi was om boere in die distrik toe te spreek oor sy liefde vir boerdery.

Thomas Bourbon-Leftley (12; middel), saam met Mogale Sebopetsa (hoof van die Wes-Kaapse departement van landbou; links), en William Bourbon-Leftely (Thomas se pa; regs) by Agri Wes-Kaap se jaarlikse kongres in Augustus verlede jaar. Foto: Verskaf

Volgens hom het een van sy onderwysers by die Paarl Primêre Seunskool, Kara Strydom, se pa, Jannie Strydom, Agri Wes-Kaap se uitvoerende hoof, hom genader oor ’n inspirerende praatjie wat toe beslis aan vele se hartsnare gepluk het.

In sy toespraak het Thomas uitgebrei oor sy passie vir landbou en hoekom hy, ten spyte van die sektor se uitdagings, steeds sal wil boer.

Van hierdie uitdagings, volgens Thomas, sluit in die oponthoud by die hawens wat veroorsaak dat die vrugte in ’n swakker gehalte in Europa aankom, en die plaas, as gevolg daarvan, geld verloor.

Volgens William is die effek hiervan dat die plaas nie ’n wins maak nie, of net-net sy kostes dek.

Tans voer die Môrelig-vrugteplaas sy vrugte na Europa en Noord-Amerika uit, terwyl Chili Suid-Afrikaanse vrugteboere se grootste mededinger is vanweë dié land se goeie klimaat.

Op die vraag of hy en sy pa koppe stamp met die boerdery het Thomas sonder twyfel gesê “nee”, omdat hy alles wat hy tot nou weet, by sy pa geleer het.

My pa inspireer my. Ek pas net by boerdery. Ek het al my pa se boerdery-gene geërf. Hy leer my alles, en het nog altyd al my duisende vrae geduldig en mooi beantwoord en die boerdery baie mooi aan my verduidelik
Thomas Bourbon-Leftley

“My pa inspireer my. Ek pas net by boerdery. Ek het al my pa se boerdery-gene geërf. Hy leer my alles, en het nog altyd al my duisende vrae geduldig en mooi beantwoord en die boerdery baie mooi aan my verduidelik,” het Thomas aan Landbouweekblad gesê.

Sy doel is om “eendag” wanneer hy die plaas by sy pa oorneem dit nóg meer uit te brei.

You need to be Logged In to leave a comment.