Leerders van die Paarl is onlangs herinner dat boeliegedrag onaanvaarbaar is en dat voorvalle van boelie aangemeld moet word sodra dit plaasvind.
Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan en sy gelukbringer, Matteus, in samewerking met AfriForum se Paarl-tak het by verskeie laerskole in die Paarl besoek afgelê. Hierdie skole sluit in die Laerskool Slot van die Paarl, Family Tree Leadership Academy en Paarl Primêre Seunskool.
AfriForum se boodskap, geïnspireer deur die konsep van die volle wapenrusting van God, het by die leerders inslag gevind.
“Veilige skole bou veilige gemeenskappe – nie net nou nie, maar ook vir die toekoms. Ons wil hê elke leerder moet weet hoe om boelies te identifiseer en te stop,” sê Tania Scheepers, projekassistent vir onderwys by AfriForum.
Leandie Bräsler, die gemeenskapsforumkoördineerder by AfriForum, het bygevoeg: “Ons bemagtig al sewe jaar reeds skole landwyd met hierdie veldtog. Ons skep hoop en moedig kinders aan om mekaar met respek te behandel. Deur jong boompies te buig, vorm ons die toekoms van ons gemeenskappe.”
Volgens ’n studie gepubliseer in BMC Research Notes, is die syfer van laerskoolslagoffers wat onder boelies gebuk gaan in Suid-Afrika ontstellend hoog.
In die studie is bevind dat 58% van leerders op die een of ander manier met boeliegedrag te doen kry. Die statistieke is skrikwekkend wat laer- en hoërskoolleerders insluit:. Meer as 3,2 miljoen leerders word jaarliks in Suid-Afrika geboelie.. Meer as 67% van boelieslagoffers vra nie vir ’n onderwyser om hulp nie, omdat hulle nie dink dit sal hul situasie verander nie of hulle is bang dat dit die situasie kan vererger.. Een uit 10 leerders verlaat die skool om boeliegedrag te vermy.. 160 000 hoërskoolleerders bly elke dag weg van die skool af om boeliegedrag te vermy.. 90% van boeliegedrag by skole word deur leerders uitgevoer.
Boelies verkry mag deur hul slagoffers geïsoleerd en magteloos te laat voel, maar kinders kan terugveg deur saam met vriende en ondersteunende volwassenes op te tree.
Dit is belangrik dat kinders, ouers en skole proaktief optree deurdat kinders bewustheid skep deur volwassenes te vertel wat aangaan, aangesien boelies dikwels subtiele en sosiaal aanvaarbare vorms van aggressie gebruik, wat volwassenes miskyk.
Kinders moet ook verstaan wanneer hulle vir ’n volwassene vertel wat gebeur het, dit nie as skinderstories beskou word nie, maar eerder ’n manier om die magsbalans te herstel. Hoe vinniger kinders teen boelies optree, hoe beter, aangesien die aggressie van boelies kan vererger as dit nie uitgeklaar word nie. . Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor die teenboelieveldtog en om die gratis teenboelie- en kuberboeliegids af te laai.