Angswekkend oomblikke is Maandag beleef toe die berge bo Bainskloof vlamgevat het. Foto: Verskaf


Inwoners van Wellington het Maandagmiddag benoude oomblikke beleef toe die berg bo Bainskloof begin brand het.

Die brand het omstreeks 15:00 ontstaan. Die bekende boomkundige en indringer-uitroeier Barry Stander van Stem in die Bos het gesê hy en ’n span werkers het die middag teen die hange van die berg gewerk toe hy die rook sien trek.

Hulle is dadelik na die toneel om die brand te probeer bestry.

Brandbestryders van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit was hierna ook op die toneel.

Vanweë die vinnige optrede van alle betrokkenes is die vlamme vinnig in bedwang gebring.

Stander se span was wel tot laataand asook Dinsdagoggend steeds op die toneel om die situasie te monitor en te keer dat die brand nie weer opvlam nie.

Stander sê ses groot sakke vol boegoe is naby aan die gebied wat gebrand het, gevind. Dit is onwettig in die beskermde gebied van die berg geoes. Hy het gesê boegoe-stropers is gereeld in die berge en ook in Dutoitskloof doenig.

Die vermoede is dat boegoestropers vir vandeesweek se brand verantwoordelik was.

You need to be Logged In to leave a comment.