Bobbejane wat die Tweede Tol-kampterrein in die Bainskloofpas buite Wellington elke nou en dan teiken, het wéér in Januarie vanjaar amok gemaak toe dieselfde kampeerders wat ook in Desember 2023 deur hul bravade geteiken was, deurgeloop het.
Volgens Robin Kleinveld, ‘n kampeerder wie se besittings gedurende die bobbejane se besoek beskadig is, het CapeNature, wat die kampeerplek be- stuur, nie veel bystand verleen nie.
Dit is immers slegs twee van vele insidente wat gedurende die afgelope paar jaar aangemeld is.

Kleinveld, afkomstig van Bellville, en wat reeds vir die afgelope 30 jaar by Tweede Tol kamp, het saam met familie in Februarie vanjaar kamp opgeslaan en elke voorsorgmaatreël, soos voorgestel deur bewaarders van CapeNature met hul aankoms by Tweede Tol se ingangshek, gevolg.
Dit het ingesluit om al hul voedsel binne voertuie te stoor en nié in tente nie asook om alle tente oop te los wanneer niemand by die kampeerplek is nie.
Hierdie uiterste maatreëls, volgens Kleinveld, verseker dat bobbejane nie tente oopskeur en kampeertoerusting verwaarloos in hul soeke na kos nie.
Nietemin, is dít presies wat gebeur het in Februarie vanjaar met dié gesoute kampeerder en sy familie.
Kleinveld het verduidelik dat terwyl hy en sy familie lafenis tydens die somer se hitte by ‘n nabye swemgat geniet het, het ‘n trop bobbejane hul kampplek omgedolwe, op soek na kos.
Gedurende die soektog is twee van hul tente geskeur asook twee van hul splinternuwe matrasse weggedra, waarna hul ten minste een kon terug kry.
“Die matrasse was nog in hul plastiekomhulsel,” het Kleinveld verduidelik, en laggend gesê hy hoop die bobbejane slaap nou lekker. Dit is immers nie die eerste keer dat Kleinveld sy moses met Bainskloof se bobbejane teëkom nie.
Tydens ‘n vorige kampekspedisie in Desember 2023 het nog ‘n trop bobbejane een oggend om 05:00 die kampeerplek betree, waarna hul een tent gedeeltelik oopgeskeur het en ‘n ander se sykant heeltemal oopgeruk het, voordat ‘n manne- tjie-bobbejaan die tent betree het waarin Kleinveld se vriend gelê en slaap het.
Volgens Kleinveld kon die vriend die bobbejaan wegjaag en hulself verdedig deur ‘n stapstok te gebruik.

Kleinveld het beklemtoon dat geen kos tydens hierdie insident sigbaar was nie, maar dat sy vriend wel ‘n pak koekies in hul tent vergeet het toe die tent oopgeskeur is.
Van die tente wat oopgeskeur is, was ook seiltente (canvas tents) en is van ‘n sterk materiaal gemaak.
Hierdie twee insidente was op 21 Februarie vanjaar en 8 Desembe 2023 op die geslote Facebook-groep genaamd “Camping Spots Western Cape” geplaas, waarna talle soortgelyke voorvalle deur kampeerders gedeel is.
Een hiervan sluit in dat bobbejane sowat twee jaar gelede op kampeertoerusting gespring het, waarna ‘n kampeerder vermoedelik die mannetjie-bobbejaan met ‘n pan bygedam het.
“Die beste deel is dat die bobbejane my kampplek die res van my verblyf vermy het,” luidens ‘n kommentaar wat op 8 Desember 2023 se plasing oor Kleinveld se ervaring gedeel is.
Kleinveld het aangevoer dat hy ongelukkig is oor CapeNature se behandeling van albei situasies, en het gesê die bewaarders “het skaars van hul fone opgekyk” toe hy albei insidente gerapporteer het.
Volgens hom het hulle geen ondersteuning gebied nie, en iets in die lyn gesê van: “ja, dit [die bobbejane] is maar ‘n probleem”.
Hy het aangevoer dat bobbejane deel is van die natuur en mense inbreuk maak op hul habitat as kampeerders, maar het in dieselfde asem gesê CapeNature kan meer doelgerigte, aktiewe en strategiese patrolliewerk verrig om die bobbejaanplaag by Tweede Tol hok te slaan.
Volgens hom word daar tans niks gedoen nie, en is dit die kampeerders se verantwoordelikheid om seker te maak hul besittings word beskerm.
Nietemin, wanneer die bobbejane so gemaklik en vol bravade die kampterrein binnekom, berus die verantwoordelikheid ook op CapeNature om die probleem hok te slaan, het Kleinveld gesê.
Volgens Luke Folb, ‘n woordvoerder van CapeNature, “was daar nog altyd bobbejane by die Tweede Tol-kampterrein”.
“Hulle is opportunistiese diere en kan soms dapper wees in hul optrede.”
“CapeNature verseker die publiek dat die veiligheid en welstand van die kampterrein se besoekers, personeel en natuurlewe ons topprioriteit is. Bobbejane is deel van die natuurlike omgewing in baie van ons beskermde gebiede, en hul teenwoordigheid is nie ongewoon nie.”
“Voorvalle kom egter van tyd tot tyd voor, en ons neem dit ernstig op,” het Folb gesê.
“Bestaande maatreëls om mens-en-dier-konflik te verminder is reeds in plek, insluitend om besoekers van riglyne te voorsien oor hoe om voedsel en afval veilig te berg en bobbejaanbestande meganismes op dromme en kaste binne kampeerterreine te installeer.”
“Besoekers word daaraan herinner dat voeding of interaksie met bobbejane, hetsy opsetlik of onbedoeld deur onversekerde kos, die risiko van dapper gedrag kan verhoog,” het Folb bygevoeg.
You must be logged in to post a comment.