Rassie Marais, bekende spysenier van Wellington, is op 13 November oorlede aan komplikasies na ’n operasie.
Hy het baanbrekerswerk gedoen in die spysenieringsbedryf op Wellington en was dwarsoor die Wes-Kaap ook hiervoor bekend.
Rassie is op 18 Mei 1957 in Wellington gebore. Nadat hy gematrikuleer het aan Hoërskool Hugenote en die verpligte weermag opleiding gedoen het, het hy onderwys gestudeer. Sy eerste onderwyspos was by Laerskool Kathu, maar as gebore Bolander is hy Paarl toe waar hy wiskunde gegee het by Hoërskool Noorder-Paarl.
Alhoewel hy baie lief daarvoor was om met kinders te werk, het sy hart gehunker na spyseniering. Hy het reeds op kollege begin om vir studentegeleenthede spyseniering te doen. Hy het dus uit die onderwys getree om voltyds sy passie na te streef.
Hy het ook gou die leemte aan ’n funksielokaal op Wellington besef wat ingerig is om alle funksies aan te bied.
Hy het toe vir Con Hofmyer, afgetrede ingenieur en eienaar van die bekende familieplaas Provence, genader om ’n onthaalsentrum op te rig op die plaas waar Rassie verantwoordelik sou wees vir spyseniering.
Op 10 Maart 1992 is Wellington se spoggerige en eerste onthaalsentrum, Provence, ingewy met Phyllis Spira, die wêreldbekende prima ballerina as eregas en spreker.
Minder bekende feite is dat Con vir Rassie die geleentheid gegee het om die kombuis en kookarea na sy smaak te laat inrig asook dat Con en Edith Hofmyer onderneem het om Provence twee maal per jaar gratis beskikbaar te stel vir geldinsameling funksies vir liefdadigheidsorganisasies.
Edith en Rassie was vir jare, tot met die verkoop van Provence, ’n formidabele span vir bestuur van funksies. Volgens haar het hy die mooiste blomrangskikkings gedoen.
Wat Rassie so uitsonderlik gemaak het in sy beroep is die feit dat hy géén formele opleiding gehad het in die bedryf nie. Natuurlike aanleg en gevoel vir die estetiese asook organisatoriese vermoëns, stiptelikheid, besonderse menseverhoudings deurdat hy mense fyn kon opsom, gewilligheid om die ekstra myl te loop en iemand wie se woord sy eer was, het hom nie net suksesvol nie, maar gewild en geliefd gemaak.
Hy en Susan Fölscher, met wie hy 33 jaar getroud was, het vir baie hooggeplaastes en bekendes funksies gereël, en spyseniering en blomme gedoen vir tot 500 gaste per geleentheid – van die Mount Nelson en Nuweland Hotel tot oral langs die Weskus.
Hy sal deur baie onthou word vir die pragtige geleenthede wat hy geskep het asook vir sy humorsin, positiwiteit en oop hart en hande vir ander mense.
Hy laat sy vrou Susan, kinders Manus, Sunita van Dyk en suster Ina Holthauzen agter.