BMW se spoggerige 7-reeks is aangewys as Motor van die Jaar vir 2024.Foto: Quickpic


BMW – sekerlik een van Suid-Afrika se gewildste luukse handelsmerke – het verlede Woensdagaand met die louere weggestap toe sy weelderige 7-reeks-sedan as Suid-Afrika se nuwe Motor van die Jaar vir 2024 aangewys is.

Die besonderse juweel in die motorbedryf (R2 270 000) met deure wat vanself oop en toe kan gaan, teruglê-sitplekke en slimfoon-tipe kontroles vir die agterste passasiers, waarmee insittendes rolprente op ’n groot platskerm-TV wat uit die dak swaai, kan kyk, het Suzuki se klein Fronx (R297 900) net-net om die louere uitgestof.

Daar was 18 finaliste in vanjaar se kompetisie wat in agt afdelings meegeding het. Afdelings wissel van dubbelkajuitbakkies, gesinsvoertuie en sportnutse tot verrigtingsmotors en intreemodelle.

Benewens die afdelingswenners (waar BMW vanjaar met drie pryse weggery het), was daar ’n openbare gunsteling – die Mahindra Scorpio N – wat die publiek in ’n aanlyn kompetisie gekies het.

Vanjaar se 24 beoordelaars het bestaan uit lede van die Gilde van Mobiliteitsjoernaliste, asook genooide kenners in die gebied van ontwerp en digitale tegnologie.

Moderne motors is ’n kragtoer wat interkonnektiwiteit betref en word al meer ontwerp rondom die behoeftes van die nuwe, tegnologie-bedrewe geslag van jong kopers. Die digitale funksies van die BMW 7-reeks was een van die redes waarom die beoordelaars dit so hoog aangeskryf het. Die weeldemotor se nutsfunksies soos die radio, lugversorging en selfstuur kan alles met stem- of handbevele geaktiveer word.

Suzuki kan wel bek-af voel dat sy Fronx nie die finale hekkie kon oorsteek nie. Die nuwe Fronx is ’n sakpas klein sportnuts die grootte van ’n VW Golf, en is bekostigbaar vir die breë middelklas. Dis ’n motor waarmee die gewone Suid-Afrikaner hom kan vereenselwig.

Anders as Europese en Amerikaanse kompetisies waar ’n wenner slegs per e-posstemming gekies word, hou die Suid-Afrikaanse weergawe in Januarie twee toetsdae op die Zwartkops-renbaan, waartydens al agtien finaliste deur ’n reeks statiese en dinamiese toetswerk gesit word.

Aspekte waarop die voertuie beoordeel word, is onder meer hul ontwerp en voorkoms, die afwerking en gehalte van die kajuit, hul dinamiese eienskappe op ’n toetsbaan en waarde vir geld.

Data oor mededingers in elke afdeling, verkry deur die data-versamelingsdiens Lightstone, word ook tydens die beoordelingsproses in berekening gebring.

Ander afdelingswenners, soos Toyota se kompakte sportnuts, die Urban Cruiser, en BMW se meer deftige X1-nutsmotor, was ook gewild onder beoordelaars – en geniet ’n breë aanhang onder die publiek. Die BMW M2, wat die afdeling vir verrigtingmotors gewen het, kan as ’n laaste applous beskou word vir ’n tyd wat vinnig sy einde nader – waar sportmotors nog deur ’n hoëverrigting-petrolenjin aangedryf word.

You need to be Logged In to leave a comment.